2024

Ek proe die woorde in my mond. Ek rol dit met my tong. Dan roep ek dit versigtig uit. 2024. Dit klink sagter as die harde ‘d’ van drie-en-twintig. Ja, miskien is 2024 die sagter jaar. Waar ek sagter na ander kyk, sagter praat en meer luister. Sagmoedigheid nastreef, sag maar vol moed. Twintig vier-en-twintig.

In Numeri 12 word Moses beskryf as die sagmoedigste man wat ooit geleef het. Dalk die rede hoekom hyself nie kans gesien het vir die opdrag nie. Miskien die rede waarom God juis vir hom uitgekies het om die volk vir 40 jaar deur die woestyn te lei.

Terwyl ek die woord, sagmoedig bestudeer, kom ek op ‘n artikel af op Christelike Media waar sagmoedigheid beskryf word as iemand wat op die regte tyd kan kwaad word. “En so word die betekenis van die Bybelse woord “sagmoedigheid” vir ons duidelik. Iemand wat sagmoedig is, staan sterk waar God se belange aangetas word, maar weet ook om terug te staan wanneer dit oor sy eie belange gaan. Iemand is sagmoedig wanneer hy altyd op die regte tyd toornig raak, en nooit op die verkeerde oomblik nie (W Barclay).”

Jesus beskryf homself ook as sagmoedig en nederig van hart. (Mattheus 11:29 ). Hy het kwaad geraak waar sy Vader se belange geraak is, maar was nederig toe Sy eie belange op die spel was. In ‘n ander artikel op Wagtoring word sagmoedigheid uit die Griekse vertaling beskryf as n innerlike eienskap wat verwys na die toestand van jou hart en verstand. In ‘n wêreld waar eie belange die kern van ons bestaan raak, klink hierdie woord na ‘n moeilike opdrag. Dan sê Jesus: leer van my.

Stephan Joubert sê in sy nuwejaarsboodskap dat ons nie moet probeer om ‘n beter persoon te word in 2024 nie. Dis ‘n mors van tyd om met jouself te kompeteer. “The same old you will always win…” Sy voorstel is dat ons eerder ‘n beter pad kies. Om in Jesus se voetspore te stap laat my uitkyk verander. Dan kan ek dit selfs regkry om sagmoedig te raak. “Choose your battles wisely”, sê die quote, “for not every battle is worth fighting for.”

2024. Sagter woord. Sagte jaar. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Matteus 5. Mag ons sagter kyk na ander mense en sagter antwoord. Mag ons ons battles kies waar om op te staan vir dit wat reg is, maar leer waar om stil te bly en “te let go”.

Jesus nooi ons by voorbaat uit….voor die jaar sy tol eis. Kies ‘n ander pad. Kies om by Hom te rus.

“Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederigheid van hart….” en dan die belofte, 2024 se sagte genade…”en julle sal rus kry vir julle gemoed.” (Mattheus 11)

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories