Vrede
‘n Klein krokodilletjie, 4 waterbokke en ‘n seekoei ‘n entjie verder weg. Dis my prentjie terwyl ek skryf. ‘n Onverwagse bederf. Mees ongeleë tyd. Nodigste tyd. Manlief het vergaderings terwyl ek agteroorsit en wag. Asem haal. Stop. Die wêreld gaan voort. Ouboet word die uber. Buurvrou teken briewe. ‘n Vriendin bied aan om hul tennis toe te neem. Soms moet mens eenvoudig jou oë toeknyp en waag. Waag om te los.
Gelukkig het ons die besluit 2 maande terug geneem. Toe alles makliker gelyk het. Min het ek geweet hoe dol dit juis nou sou gaan. Miskien het die Here beter geweet. Dat iets jou moet dwing om te stop. In hierdie geval ‘n kaartjie reeds gekoop.
Heel gepas het ek besluit om ‘n ou boek saam te bring en weer te lees. The Alchemist van Paulo Coelho. Wat skryf oor drome en keuses. Sommige wie se lewens verby gaan en hul drome net daar is om hul aan die gang te hou. Die dapperes waag dit om te los en vorentoe te beweeg. In die malle gedruis van werk, huis en kinders grootmaak is dit nodig om te pause en te reflekteer. Juis sodat jy nie op dieselfde plek bly nie. Soek vrede en jaag dit na, is die Psalmdigter se raad. Dien die Here en doen wat goed is, die geneesmiddel vir jou. Spreuke se geheim. Werkwoorde met ‘n doel. Soek, jaag, dien en doen. Die regte dinge.
Wanneer jy te vinnig ski, gaan jy val. Jare gelede het ons as jong getroudes ‘n ski vakansie by Jungfrou gehad. Die wederhelf het vinnig ontdek dat ski nie vir hom is nie en het eerder die fotograaf van die trip geword. Ek was die dapper een. Het oral geski. Van hoë bulte af en tussen dorpies. Op alle kleure roetes. Vinniger en vinniger. Harde konsentrasie om my bene bymekaar te hou en my lyf vorentoe. In my binneste het ek geweet dat ek net-net in beheer was. Dat daar ‘n millisekonde was tussen beheer verloor of om die draaie gly. Die engele het seker saam geskaats want ek het elke keer veilig by die dorpie ingeski, terwyl my fotograaf getrou gewag het.
Vroeg in die jaar is ek ver van ski, maar in my wese is my pas vinnig. Net-net in beheer. Stiltetyd, draf en tyd vir die woud is asemhaling vir my. Om my werksure te beheer die volgende stap. So nou en dan, nee te sê dalk iets om te onthou.
“Ek het gekom om vir julle die lewe te gee, en dit in oorvloed.” My lewe is oorvloedig en daarvoor sê ek dankie.
Die waterbokke stap eet-eet vorentoe. Die seekoei gaan lê weer in die water. Die krokodilletjie vind ‘n ander sonkolletjie. Voëltjies sing plesierig. Soms is voluit lewe ‘n pause. Om die oomblik te rek. ‘n Stilsit voor ek weer kan jaag. Almal is nie bedoel vir ski nie. Sommige is dalk eerder fotograwe. Die leeu kan nie heel dag lê en rus nie. Êrens moet hy jag. Die geheim lê in die balans van die lewe. Om jou droom te leef moet jy soms waag, maar ook leer waar om te los. Prioriteite in die regte volgorde kry.
Die kinders was ok. Die wildtuin was ‘n fees. My battery geolie. Gereed om voluit te leef. Dalk ‘n klein bietjie stadiger te ski.