Die reis na jou skat
As daar een ding is wat ek opnuut in die wildtuin besef het, is dat alles oor ‘timing’ gaan. Fyn kyk, die spoed waarteen jy ry en die pad wat jy kies speel natuurlik ook ‘n rol, maar wanneer die luiperd voor jou oor die pad loop, was timing die regte woord. Dieselfde pad, dieselfde dag, dieselfde roete maar ‘n oomblik die kant of daai kant en jy het dit gemis.
Soms is ‘n mens bloot gelukkig. Na ons vir 4 dae kilometers ver gery het op ompaaie en grondpaaie en die luiperd ons bly ontwyk het, is dit uiteindelik 3 km van die hek af, op die teerpad, waar ons hom in ‘n boom betrap, reg langs die pad. Ek het gevoel of ek honderde bome op en af gekyk het en hier was hy oop en bloot. Op die hoofweg. Reg voor ons neuse.
Wanneer die jong seun sy skat gaan soek in die boek, The Alchemist, neem dit hom na vreemde plekke. Hy deel mensekennis op, leer om na sy hart te luister en sy intuïsie te vertrou. Hy leer om in die oomblik te leef en minder oor môre te vrees. Sy soektog maak ‘n onverwagse wending wanneer hy moet terugkeer na sy wortels, net om daar die eintlike skat te ontdek. In daardie oomblik besef hy dat hy nooit al die mense op sy pad sou ontmoet het as hy van die begin af geweet het waar om te gaan kyk nie.
Dit laat my dink aan die lewe met al sy paadjies. Waar ons soms ure ry sonder om ‘n dier te sien. Waar ons kinders teleurstellings ervaar sonder om die uitkoms te verstaan. Ek luister hoe my jongste praat oor haar wedstryd wat sy verloor het. Dat sy dalk nie al haar kanse gevat het nie, maar tevrede voel omdat sy goed gespeel het. Dan noem sy terloops, dis in elk geval net ‘n game. Ek sien daarin hoe sy gegroei het in haar menswees en dat vorige paaie haar by ‘n skat laat kom het. Dit maak die reis die moeite werd.
As ons van die begin af die luiperd gekry het, het ons dalk ophou soek of teleurgesteld gevoel oor die res wat kom. Op die lang kronkelende paaie het ons die mooiste grasvelde gesien en soms kilometers gery sonder om diere te sien. Ander kere was ons gelukkig. Het ons waardering gehad vir die kameelperde, zebras, kudubulle wat baklei, die babawaterbok by sy mamma, klein olifantjies tussen die grotes, troupante, die bruinarend, seekoeie, die eensame blouwildebees, gereelde rooibokke, kosbare renosters en die lekkerte van ‘n trop leeus met ‘n maanhaar, al was hul ‘n ent van ons af. Ons het besef dat net om hier te wees ‘n seëning was. Dat ons besig was om iemand anders se droom te leef. ‘n Luiperd sou net ‘n bonus wees.
Op ons pad het ons ook mense ontmoet. Gesigte sonder name. Van die uberman, tot die lugwaardin, die paartjie by die gastehuis, die buurvrou by die kamp. Sommige reisigers met ‘n tas en ander bloot reisigers van die lewe. Ons het aan stukkies van mekaar se lewens geraak.
Timing, die woord van die wildtuin. Dalk ook die woord vir die lewe. Elke dag kom net een keer. Sommige mense kruis jou pad per ongeluk. Paulus se opdrag aan die mense van Efese is om die beste gebruik te maak van elke geleentheid. ‘n Vriendelike woord, ‘n oor wat luister, ‘n dankie, ‘n omgeehart.
Die luiperd het ons verras. Die bonus-blessing van die trip. Die kamera is uitgehaal en die kiekie is geneem. Vir eendag se onthou. Te herinner dat timing soms alles is maar dat die reis nodig is om geleenthede raak te sien.