Genade

Ek lees die opskrif: Bekende sakeman dood – selfdood. Dan volg die kommentaar, soos altyd. Uiteenlopend en verdoemend. Êrens het hy die pad byster geraak. Verkeerde besluite geneem en toenemend dieper in die moeilikheid geraak. Verskeie mense het seer gekry, geld verloor en sy eie gesin het daaronder gelei. Die wolwe het nader en nader gekom. Die afgrond was onvermydelik. Toe maak hy self die keuse….’n hartseer keuse.

Terwyl ons ‘n deel van ‘The Chosen’ kyk, ontmoet ons Jesus by die tollenaar se huis. Daar is ‘n gelag en gesels. ‘n Verskeidenheid van mense om die tafel. Sy dissipels en ‘n paar vroue ingesluit. Dan stap twee fariseërs daar verby. Hul kan hul oë en ore nie glo saam met wie Jesus kuier nie. Mense met slegte reputasies wat ooglopende verkeerde besluite geneem en ander verlei en verkul het. Jesus antwoord dat díe wat gesond is, nie ‘n dokter nodig het nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie…’

Met my voorbereiding vir Paasfees besluit ek om weer die boek van Johannes aan te pak. ‘n Vers in die eerste hoofstuk val my op…”Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee, die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”

In ‘n boodskap by Hoop gemeente noem die Prediker dat sommige mense soos mossies is. Tevrede waar hul is. Veilig en geanker in hul geloof. Ander weer, is soos swaeltjies. Avontuurlustig, reisigers en op ‘n manier rusteloos en soekend. Tog bring die Here hul keer op keer terug nessie toe. Ek lees daarin iets van God se genade. Vir die seun wat by die huis bly maar ook vir die seun wat afdwaal. Die verlore seun.

Terug by die sakeman wie se storie ek nie juis ken nie, is daar baie soos hy. Wat verkeerde keuses neem en in ‘n moeras beland. Tog kan ek nie help om te wonder oor al die vingerwysers nie. Hulle wat Sondae dalk in die kerk sit met hul eie bitter harte, hul klein sondes en weggesteekte skuld. Wat miskien meer besorg is oor Moses se wette as oor Jesus se koms en sy genade. Twee fariseërs wat by die deur inloer en nie verstaan nie.

Geloofsmossies sukkel om swaeltjies te verstaan. Sommige wil almal in dieselfde nessie indruk. Jesus roep vir Petrus en Johannes maar ook vir Matteus die tollenaar. Sy genade is soveel groter en wyer as wat ons ooit kan begryp.

Miskien is Paastyd weer die tyd om stil te word. Ons hande toe te vou in ‘n gebed: Dankie Here vir U liefde, U bereidheid om genade op genade te gee. Vir almal wat glo. Dankie dat U lief is vir die mossies en die swaeltjies en elkeen wat ‘n bietjie anders is. Dankie dat U juis gekom het vir hulle wat ‘n dokter nodig het.

Minder vingerswys, minder koppe skud, minder oordeel. Genade op genade. Vir almal bedoel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories