Moenie uitmis

Sy het sy goedjies verder uitsorteer. Dit was nie maklik om deur al haar seun se besittings te werk nie. Tog was daar dankbaarheid in haar gemoed. Al het hy op soveel dinge uitgemis, was een ding seker uit almal se getuienisse: Hy het nie uitgemis op die hemel nie.

Dis Goeie Vrydag. Stilword tyd. Ek pause vroeg reeds en lees dele van die Evangelies. Oor die aarde het dit donker geword. ‘n Vreemde dag vir baie. Op die koppie het drie manne aan ‘n kruis gehang. Daar was groepies vroue wat verwese eenkant gestaan en kyk het. Soldate wat saam gespot het. Fariseërs wat hul verlekker het in die situasie en ander mense wat ‘die skouspel’ aanskou het. In die middel was Jesus. Wat ‘n doringkroon moes dra. “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34)

Ek staan ‘n oomblik van die kruis af weg. Probeer my indink hoe dit moes wees.

Josef van Aramat daag onverwags daar op. Iemand met genoeg gesag om by Pilatus te kan uitkom. God sorg op vreemde maniere. Intussen noem Lukas dat al die mense wat daar saamgedrom het om na die skouspel te kyk, verslae huis toe gegaan het.

Wat maak Paasfees aan my en jou? ‘n Toeskouer wat verslae huis toe gaan, ‘n Offisier wat besef wie Jesus regtig was, sy vriende wat op ‘n afstand bly staan en eintlik nie weet wat om hiervan te maak nie? ‘n Fariseër wat meer begaan is oor wat die mense gaan dink, of ‘n Josef wat besef dis tyd om op te staan vir wat hy glo.

Jesus het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om te red. Ons leef met hoop omdat dood nie meer ‘n bedreiging vir ons is. Dis nie ‘n ons teen hulle situasie nie. Dis ‘n vingerwys na die kruis en dan om daagliks te streef om soos Jesus te leef. Jesus breek die skanse af tussen die Jode en die Samaritane. Hy leef eenvoudig anders. Hy sterf anders. Hy staan op en oorwin die dood.

Wanneer ek die verhaal lees van die seun wat te vroeg sterf en sy ma wat sy goedjies moet uitsorteer, besef ek opnuut wat ons troos en ons rykdom is wanneer ons Jesus ken. Ongeag wat ons bereik op aarde of waarop ons dalk uitmis, as ons in Hom glo het ons bereik wat nodig is.

Die wekroep is dat ons naby aan die kruis kan beweeg maar steeds verslae huis toe kan gaan. Naby maar nie teenwoordig nie. In Sy huis maar nie in ons harte nie. Dat ons die wêreld aan ons voete kan hê, maar uitmis op die ewigheid.

“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dìé wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Joh 1:12

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories