Vrede in die storm
Vrede vir julle, is Jesus se woorde.
Ek luister na die boodskap op die radio na ‘n slapelose nag van intense stormwinde in die Kaap. Oral lê takke rond. Seile vlap rond en buite is die karafaan se ruit uitgewaai. Verder staan ons huisie mooi. Ander is minder gelukkig. Bome wat op karre en dakke geval het, dakplate wat afgewaai het, brande wat uitgebreek het. Sommige mense kan nie uit hul huise kom nie. Dis chaos op die paaie en chaos in die buurt. Vrede vir julle. Die woorde sukkel op die tong.
Ek lees weer die gedeelte van die opstanding in die evangelie van Johannes. Die doeke opgevou in die leë graf. Die dissipels wat ingaan en verwonderd teruggaan huis toe. Net Maria wat by die graf bly staan en huil. Jesus het haar lewe verander. Met dieselfde trane het sy destyds sy voete gewas. Sy is stukkend verlore in sy afwesigheid. Nou is sy liggaam ook weg. Dis op daardie plek wat Jesus haar ontmoet. Hy noem haar op haar naam en tussen die trane deur, herken sy sy stem.
Net die vorige dag het ek West peak van die Helderberg gaan klim saam met ‘n groepie ‘random’ stappers. ‘n Besoeker van Duitsland, iemand van Limpopo, ‘n ouer vrou en haar seun en ‘n paar ander mense. Ek bewonder die Polokwane meisie die meeste. Die opdraende is erg vir haar, maar sy hou uit. Kort-kort moet ons vir haar wag. Ek sien hoe sy stop om die sweet af te vee. Die ma loop ook bietjie moeilik. Beide haar knieë is verbind en sy stap met 2 loopstokke. Op sommige plekke is dit klim en klouter. Hier en daar trek haar seun haar op of gee haar ‘n ligte stootjie. Sy kom ook bo. Uiteindelik bereik almal die baken bo op die berg. Elkeen met sy eie stuk bagasie. Die uitsig is die beloning…
Ek kan nie help om te wonder hoeveel mense aan die voet van Helderberg dit al gewaag het om tot bo te stap nie.
Maria het dit gewaag om te glo. Dat redding ook vir haar bedoel is, met al haar foute en gebreke. Wanneer sy uiteindelik sy stem herken, word sy die eerste getuie van sy opstanding. Random stappers waag ook om uit hul gemaksone te kom. Staan vroeg op en ry ver. Die Polokwane meisie het geen familie hier nie maar kies om by ‘n stapgroep aan te sluit al kom oefening nie natuurlik vir haar nie. Sy ontdek berge en kom op plekke waar gebore Kapenaars nog nooit was nie. Sy inspireer my.
Vrede vir julle, is Jesus se woorde. Selfs in die storm nag, selfs wanneer die wêreld in chaos is. Hy kom tot binne in die bovertrek waar die dissipels skuil. Hy ontmoet Maria buite in die tuin. Hy ontmoet jou waar jy is.
Terwyl ek ‘n paar dae later buite hardloop verkyk ek my aan al die blare en takke op die grond, stukkende heinings en bome wat skeef lê. Vreemd hoe sommige bome en selfs herfsblare die toets deurstaan terwyl ander bloot nie kon regop bly nie. Soms kom storms onverwags in ons lewens. Is dit in die mooi weer waar ons moet seker maak dat ons ankers stewig is. Sodat ons ook deur ons trane sy stem kan herken.
“U liefde reik tot in die hemel, U trou tot in die wolke, U geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see.” Ps 36
Ongeag waar ons beweeg, of ons berge klim of in die vallei bly staan, Hy is daar. Hy nooi ons om die lewe aan te gryp en die piek te bereik maar Hy is ook daar waar jy sukkel teen die stormwind. Die uitsig is die bonus, maar sy vrede die ware beloning.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheus 11
Jy mag dalk nie kans sien vir die berg nie, maar jy hoef nie uit te mis op sy teenwoordigheid nie.
Vrede vir jou. Selfs in die storm.