Wat bring jy?
Wat bring jy na die tafel toe? Wat maak jy hier? Dis my vraag aan myself. Ek los dit ‘n oomblik daar en trek my tekkies aan.
Ek het vanoggend min tyd vir hardloop, maar my kop het vars lug nodig. Ek kies dus my ‘short and sweet’ roete. My hardloop vriendin weet wat dit beteken. Dalk ‘n korter roete maar glad nie so ‘sweet’ vir almal nie. Dit het ‘n lekker bult voor jy by die kraan kom, dan nog ‘n kort stukkie opdraende en dan eers die ‘magic’: Afwaarts deur ‘n klein stukkie woud. Dis daar waar ek altyd asem haal. Vanoggend is geen uitsondering nie. Die lug is pienk en blou varsoggend mooi. Ek stop en neem ‘n foto.
Onder in die woud is dit ‘n ander prentjie wat my begroet. Takke en groen blare lê orals op die grond. ‘n Teken dat die storm ook hier gewoed het. Plek-plek moet ek oor stompe klim. My hart is seer wanneer twee groot bome ook op die grond lê. Een storm te veel.
Ek dink skielik aan die storie wat Zantie Swanepoel in die week op haar gereelde Woensdagkuiers gedeel het. Haar eintlik boodskap was dat God na ons verlang, maar dat ons soms so besig raak met ons aardse lewe dat ons perspektief verloor. Op ‘n dag egter, gaan jou boom ook val…gaan jou aardse lewe tot ‘n einde kom en jou besittings wat jy so vashou, weggegee of verkoop word. Jy gaan dalk gemis word maar wel vervang word by jou werk. Jou foto gaan nog êrens hang tot dit later ‘n bietjie weggeskuif word. Jou geliefdes sal jou onthou, ‘n bietjie huil maar later weer lag. Jou stoel sal leeg wees maar weer gevul word….
en jy?
Jou realiteit word verplaas na ‘n ander wêreld. Al wat jy saam met jou het, is jou gees. As jy ‘n lewe geleef het van liefde en omgee, is jou gees gevoed. Wat jy saamvat, is dit wat jy gegee het.
God verlang om tyd saam met ons te spandeer….sodat ons sy hart kan hoor.
By die drama vergadering kom iemand na die tyd na my. Hy wens my geluk met my verkiesing. Ek weet steeds nie hoe ek daaroor voel nie en glimlag verleë. Dan tref sy woorde my. Hy is bly ek is daar omdat ek vrede in my dra….en skielik vind ek my plek. Te midde van my eie onsekerheid, my min kennis van finansies en beheerrade, dra ek Jesus se vrede in my hart. Dis genoeg, dalk selfs meer as genoeg.
Ek dra die boodskap oor na my ontvangsdames, waar die harde realiteit en spanning hul soms wil oorweldig. Die liefde en omgeeharte wat hulle tafel toe bring is baie meer werd as die enkele detail wat hul dalk gemis het.
Ons lewe is kortstondig maar terwyl ons hier is, is dit vir ‘n rede. Om te groei en skadu te bied. Om te gee, dit wat in ons vermoë is. My genade is vir jou genoeg….God se woord vir my.
Tussen die sonsopkoms, die woud, takke op die grond en ‘n onderwyser se woorde, het ek my antwoord gekry. Al is my kennis dalk min, en voel ek steeds ‘n bietjie uit my gemaksone, weet ek wat ek tafel toe bring. Sy vrede.
Daar vir ‘n rede.
Wat bring jy?