Gekies vir die span

Was jy al ooit gekies vir ‘n span, is dr Dion Forster se vraag op sy weeklikse gesprek op Radio Kaapse kansel. Hy vertel van sy seun wat onlangs vir sy skool se rugbyspan gekies is en hoe opgewonde hy daaroor was. Hy laat ons almal terug dink na kere wat jy die span gehaal het, maar ook na oomblikke toe jou naam nie gelees is nie… Dan deel hy die goeie nuus:

Jesus het jóú gekies (Johannes 15:16). Nie jy vir Hom nie. Jy is gekies vir Sý span…. dit is wat eintlik saak maak. Nie die A-span, die Boland span of enige ander toekenning nie. Gekies. Punt. Deur Jesus. Daarna aangestel om vrugte te dra, vrugte wat sal hou.

Tydens die erediens die Sondag daarna word ons herinner dat ons in God se liefde moet leef. Dominee Paul raak die kwessie aan dat baie mense worstel met hul doel op aarde. Dan lig hy die vers in 1 Johannes 4:13 uit. “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons, sy doel volkome bereik.” Wanneer ons met God se bril begin stap, kom Sy doel in ons na vore.

Soms voel dit of ons die lewe so kompleks maak. So soekend na geluk en sin dat ons die ‘basics’ mis. Daar is niks verkeerd om te werk daarna om gekies te word en die span te haal nie, maar as ons die geleentheid mis om dáár ook in ons wese ‘n verskil te maak, is dit dalk alles net nog ‘n gejaag na wind. Om die span te bereik gee vir jou die platvorm om op daardie gebied ander mense te ontmoet en mekaar raak te sien. Dís die groter prentjie. Dalk die rede vir jou gawes en talente.

Die afrigter of onderwyser se invloed is net so belangrik. ‘n Toegewyde afrigter by ons skool se logo op sy profielfoto val my op. TCA. Die T is in die vorm van ‘n kruis geskryf. Ek vra hom daaroor uit en hy verduidelik dat dit vir Trinity Coaching Academy staan. Dis ‘n daaglikse herinnering aan homself hoekom hy daar is. Trinity verwys na die Goddelike 3-eenheid, dit waarin hy glo, en die coaching academy is sy passie wat hy uitleef. Dáár vir meer as afrigting.

Soms is ons op ‘n stasie waar ons dalk nie wil bly nie, maar is daar juis ‘n rede hoekom jy langer op daardie perron moet vertoef. Moet jy of in jouself groei of uitreik na ander.

By ‘n vroue-aand verkyk ek my aan die vroue soos hul instap. Elkeen met sy eie haarstyl, kleresmaak en hoeveelheid grimering. Elkeen met sy eie storie. Almal wil ‘belong’ en tog hoef ‘n mens nie orals in te pas nie. Is daar vryheid as jy jouself kan wees, en soos die spreker gesê het, as jy kan besef dat jy vir jou eie geluk verantwoordelik is.

Miskien is jy nie in daardie vriendekring gekies nie, dalk het jy nie die bevordering gekry wat jy moes nie of is dit jou kind wat nie die span gehaal het nie. As jy in hierdie wêreld deur die liefde lewe soos Jesus, is sy doel volkome met ons bereik. Is jy vir die belangrikste span gekies.

Die seun het vir sy pa gesê dat hy sy bes gaan doen om sy skool te verteenwoordig. Hy het met trots sy posisie aanvaar en sy rugbytrui aangetrek. Ons kan ons koppe lig vir die wêreld en ons skouers reguit maak. Nie uit eie belang of uit eie krag nie, maar omdat Jesus ons gekies het. Aangestel om lief te hê en vrugte te dra.

“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees…”, 1 Johannes 4:18.

Soldaat vir Christus, Jesus se hande en voete, Hokkiebokkie tot Sy eer, Matie vir Jesus, Gekies vir sy span… Hier vir ‘n rede.

Wat is jou logo?

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories