Hoe gaan dit?
“How are you?”was sy vraag. “Good”, het ek outomaties geantwoord. “It is good when its good,” het sy antwoord my getref….Met katkos in die hand, het ek daar uitgestap. Ek het meer gekry as wat ek kom koop het. Hoe waar is dit nie. Its good when it’s good….
In die week het ek een oggend ‘n gedig geskryf oor my frustrasies van stilsit terwyl ek siek is en nie kan hardloop of stap nie. Ek het op die bankie voor die voordeur gaan sit en my verkyk aan die herfsblare en die oranje strepe in die lug. Dit het my getref hoe ek dinge so maklik asvanselfsprekend aanvaar en dat my ‘tydelike’ probleem, dalk ander se konstante is. Dat dit soms nodig is om siek te word sodat jy vir ‘n oomblik deur ‘n ander lens moet kyk. Nie net om te waardeer wat jy het nie, maar te besin waarop jy jou geluk bou.
“Meer as rykdom, meer as mag, as die skoonheid van sterre in die nag, meer as wat ons ooit op aarde wen….is dit werd o Heer om U te ken.” Die lied se woorde herinner my keer op keer dat ons so maklik en ongesiens, ons hoop in ander dinge soek en vind. In die natuur, in ons besittings en in die mense rondom ons. “My hope is build on nothing less than Jesus blood and righteousness…..Christ alone, Cornerstone, through the storm, He is Lord of all….” Die lied wat my dan help om te onthou waarop my hoop gebou moet word.
Ek dink weer aan die kassier se vraag….en my antwoord, ‘good’. Ek dink aan die verkiesing wat voorlê, al die plakkate teen die lamppale en al die politieke agendas. Onstuimige tye. Dan die kontras. Pinkstertyd in ons kerke. Hoe wonderlik is die Here se voorsienigheid. Juis in hierdie tyd word ons gees versterk. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees.” Handelinge 1:8 “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees.” Sefanje 4:6
Wanneer ek die gedeelte in Handelinge lees waar gelowiges bymekaar was en vervul is deur die Heilige Gees, sien ek dat daar ‘n verskeidenheid van nasies in Jerusalem bymekaar was wat skielik mekaar kon verstaan. “We hear them speaking in our own tongues the wonderful works of God.” Ek sien op ‘n manier ons Reënboognasie van verskeidenheid kulture en dink hoe wonderlik dit sou wees as ons mekaar meer sou verstaan. Nie net mekaar se taal nie, maar mekaar se harte en vrese. As ons minder wou preek maar mekaar eerder sou bemoedig deur God se grootheid uit te wys. Minder ‘doom en gloom’ spreek maar eerder raak te sien waar God reeds werk.
It is good when it is good….nie omdat ek beter is, genoeg het om te eet en dit eintlik met my goed gaan nie, maar omdat my hoop in Jesus is. Ons leef in ‘Ester tye’, vreemde tye, waar ons moet kies waarin ons glo en wanneer om op te staan vir ons geloof. Ons leef in tye waar ons hoop beslis nie op enige politieke party kan wees nie, maar in Jesus alleen.
Good, because God is good. Omdat Sy gees ons nie lafhartig maak nie, maar ons vul met krag, liefde en selfbeheersing. Dis waaroor pinkster gaan. Mag ons die wapenrusting volledig aantrek, ons kop oplig, en toelaat dat die Heilige Gees ons vul met sy teenwoordigheid.
Hoe gaan dit vandag met jou?