Aanskou die mens…
Op ‘n Sondagmiddag woon ek ‘n uitvoering by van Winand Grundling agter die orrel met voorlesings deur Johann Nel. Ons kry ‘n toer deur die geskiedenis. Van die tweede wêreldoorlog , atoombomme wat val, eerste tree op die maan, 9/11 se slagting, die vuvuzelas tydens die Wêreld sokkerbyeenkoms, Diana se dood met Elton John se musiek, Covid met sy maskers, Eskom se beurtkrag, die oorlog in Ukraïne, die Springbokke se oorwinning en Nkosi Sikelela, 2 dae voor die verkiesing…Musieknote kleur die prentjie in terwyl die stories ons soms laat skater en ander kere tot stilstand ruk. Wat is groter, is êrens die vraag: ‘n Atoombom of God se genade. Keer op keer herhaal die refrain: Aanskou die mens…met die gevolgtrekking dat daar nog nooit wenners na ‘n oorlog was nie.
So is die mens, met sy vreugdes en verdriet. Terwyl ek deur die koerant blaai, val ‘n foto my op van 3 laggende gesigte, net om te lees dat dit enkele oomblikke geneem is voor ‘n transitorooftog twee se lewe gekos het. Die prentjie ontstel my. Dalk juis omdat lewe so sigbaar en mooi is daarop. By die werk ervaar ek dit ook. ‘n Swanger mamma kom my sien omdat sy onrustig voel oor haar ongebore kindjie. Die handjies en gesiggie is perfek maar die hartjie klop nie meer nie. My hart huil saam met die verlies. ‘n Paar afsprake verder klop ‘n ander hartjie sterk maar die pa wil nie die baba hê nie. So is die mens Here…Boosheid en goedheid gemeng, lewe en dood een tree uitmekaar.
Tydens die pinksterreeks word ons daaraan herinner dat ons nie net leef vir eendag nie. Dat Jesus gesterf het, opgestaan en opgevaar het en daardeur die dood oorwin het. Dat ons anders moet leef, omdat ons glo. Sonder vrees, nooit sonder hoop. Die oorwinning is reeds behaal. Dit gee perspektief aan ons elke dag lewe. Dit maak dat ons ander kan oplig en bemoedig.
Die verkiesing plaas ‘n ‘pause’ in ons week. Mense trotseer lang rye om êrens hul kruisie te trek. Met afwagting….En dan?
Wat maak ons met die verkiesingsuislae waar die radikale groepe hul etniese mag vertoon? Wat word van saamstaan as almal opnuut weer groepeer?
Ons hou aan bid en glo.
Hou aan soek vir die mooi en die goeie. Die antwoord wat ek in Filippense 4 kry die dag na die uitslae instroom: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is….daarop moet julle julle gedagtes rig.” Daar is steeds goeie dinge en goeie mense. Hulle wat streef na waarheid en dit wat rein en reg is. Mag ons die Here bly loof vir elkeen van húlle! ‘n Pasiënt vertel hoe sy en ‘n ander ouer dame mekaar by die stemlokaal bygestaan het. Wildvreemdes wat mekaar by die trappe kon ophelp. Ek sien die spontane omhelsing van my kinders in hul sportspanne wanneer hul seëvier. Kinders van alle agtergronde en kulture. Ek lees hoe reddingspanne met moeite ‘n beseerde van die berg afbring. Ek hoor hoe ma’s en oumas opstaan teen bendegeweld en in die middel van die kruisvuur gaan sit. Ek loop ons berge plat en raak opnuut betower deur die uitsig, die veldblomme en natuurskoon. Sien die sonsondergange en mooi wolkepatrone. God se skepping wat my herinner aan Sy sorg. Manna en kwartels, veral in woestyntye. “Daarop moet julle julle gedagtes rig…”
Soek die mooi, en jy sal vind. Hou aan bid en trek die skoene van versoening aan. Sy opdrag….Vrede wat alle verstand te bowe gaan, Sy belofte.
Winand en Johann sluit hul uitvoering af met die gedagte dat saamstaan altyd die beter opsie bly.
Mag Sy genade groter wees as enige radikale opswaai. Mag Hy harte verander en ons krag gee om tree vir tree vorentoe te beweeg.
We'll walk the land
With hearts on fire.
And every step will be a prayer.
Hope is rising, new day dawning.
Sounds of singing fill the air.
We'll walk for truth, speak out for love.
In Jesus name we shall be strong.
To lift the fallen, to safe the children.
To fill the nation, with your song.
Let the flame burn brighter
In the heart of the darkness
Turning night to glorious day
Let our song grows louder
As our love grows stronger
Let it shine,let it shine!
Aanskou die mens…
Sáám met Hom kan ons anders leef.