Reuse en sprinkane

Wil jy nie ook inskryf vir die Knysna halfmarathon nie? Dit was haar vraag een oggend na ‘n lekker draffie. Ek doen nie meer veel wedlope nie, maar hierdie is ‘n besonderse wedloop. Jy klim vroeg die oggend in taxi’s en ry dan op tot in die woud waar vure en ‘n warm atmosfeer vir jou wag. Dan hardloop jy ‘n groot gedeelte deur die woud tot jy terug is in Knysna. Ek dink nie te lank daaroor nie, en skryf in…

Die vorige week was die vraag tydens die erediens iets wat my laat nadink het: Wat is jou reuse? Die prediker het verder verduidelik. Wat is dit wat jou bang maak of aftrek. Dan verwys hy na die 12 verkenners wat deur Moses gestuur is om die beloofde land te verken. Almal het saamgestem dat die land oorloop van melk en heuning. Kaleb het geglo dat hulle beslis moes optrek maar 10 verkenners was oortuig dat die inwoners sterker was as hulle . “Ons het daar ook reuse gesien en ons was soos sprinkane in ons eie oë”….Ek lees verder in Numeri 13 dat die manne ‘n slegte gerug onder die Israeliete versprei het ….

Hoe jammer dat die groot volk so gou vergeet het van die Here se wonderdade in Egipte en hul trek deur die Rietsee. Dat hul so gewoond geraak het aan die vuurkolom in die nag en die wolkkolom in die dag, dat hul die Here se sorg as vanselfsprekend begin aanvaar het. Nou word hul gekonfronteer deur nuwe uitdagings. Hul angs is groter as hul vertroue.

Waarna kyk jy en na wie luister jy wanneer jy gekonfronteer word met nuwe uitdagings, is die vraag aan ons. Maak ‘n politieke party jou dalk so bang dat jy vergeet van God se sorg? Laat lei jy jou so deur slegte gerugte van angstige en negatiewe mense dat jou geloof skipbreuk lei? So baie kere neem ons die goeie dinge in ons lewe asvanselfsprekend en vergeet ons van die Here se sorg wanneer ons gekonfronteer word met moeilike dinge. Ons raak angstig omdat ons dikwels ons tyd verkeerd spandeer.  Dalk te veel nuus kyk en te lank op ons fone bly, saam met mense kuier wat net kla of lankal hul geloof verloor het. Ons laat dan toe dat die reuse voor ons, ons geloof laat verkrummel.

Die laaste 2 maande voor my halfmarathon kon ek min oefen. Ek het gesukkel met my longe en het min gedraf. Gelukkig kon ek baie berge klim al was hardloop ‘n probleem. Die halfmarathon het skielik soos ‘n reus voor my gelê. Was daar genoeg in my tenk om dit te kon klaarmaak? My vriendinne het my gemotiveer om saam te kom. Hul beloftes van bulte stap, saam sweet en op ons tyd klaar maak,  het my laat instem.

Ons het die kar gelaai en die langpad gevat, piekniek gehou en koffie gedrink. Baie gesels en gelag. Vroeg opgestaan en gebondel vir ‘n plek in die taxi. Saam weggespring en (te) min gestap! Verbasend goed gehardloop en klaar gemaak. Almal met medaljes om die nek. Later die aand lekker gelag oor die “bulte saamstap” leë beloftes. Tog het ek die waarde van goeie vriende beleef. Wat geloof in mekaar gehad het, en mekaar kon aanmoedig om te begin en klaar te maak. Elkeen het as ‘n wenner van die veld weggestap. Daar was geen plek vir sprinkane onder ons nie.

Ek dink aan ons land en al sy uitdagings. Gif gerugte vererger angs. Hoop stories kweek nog hoop. Tevredenheid begin met ‘n dankbare hart…waar jy God se sorg ook in die klein dinge raaksien. Geloof bo twyfel kies. Alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is,…daarop moet julle julle gedagtes rig. Omring jou met mense wat jou oplig, nie aftrek nie!

Toe ek later na die wegspringfoto kyk van al die duisende mense het ek die hardloop ‘quote’ onthou:  “The miracle today was not that I finished, but that I had the courage to start…” Agter die medalje was daar die motivering van vriende, die saamnooi en aanmoediging.

Kaleb en Josua het God se beloftes onthou. Hul vertroue was groter as hul vrees.  Dit help as iemand saam met jou glo.

In ons eie oë mag ons dalk sprinkane wees, maar in God se oë is ons Sý kinders. Saam met Hom is geen reus te groot nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories