Blom en laat blom
“Moenie net blom waar jy geplant is nie, laat ander rondom jou blom…”, die woorde van Louis Britz laat my ‘n oomblik stilstaan. Ek deel dit met my gesin, en hul sien al die groter prentjie: Die begin van ‘n nuwe blog… Natuurlik, want wanneer iets my hart raak en ek dit neerskryf , word dit iets om weer te herkou. Dan, op ‘n dag kry dit vlerke en vlieg. Êrens, op die regte tyd, beland die woorde in iemand se hart. Ek steur my dus min aan my gesin se geterg, en maak hul liewers deel van die oplossing. Hoe dink julle kan ons ander mense ook laat blom?
Wanneer my HK-kind die tuig neerlê na haar termyn, stoei sy met die vraagstuk of sy genoeg gedoen het? Het sy bereik wat sy wou en wat sy moes? Baie komitee-lede stoei dikwels ook met daardie vraag. Jy begin met passie en soveel idees, maar struikelblokke soos kostes, prosedures wat gevolg moet word en tydsones maak dat jy sukkel om in jou doel te slaag. Terwyl sy haarself krities evalueer, onthou sy die waardevolle stelling van Maya Angelou: “People will forget what you did, but people will never forget how you made them feel…”, en as sy getrou was in haar wese hoe sy ander laat voel het, is dit dalk waardevoller as elke projek wat sy nog wou doen. Haar denkwyse beantwoord op ‘n manier my vraag. Hoe jy ander laat voel, is dalk die sleutel vir hulle om te begin blom.
Soms kos dit ‘n skare mense om ander te laat blom. Wanneer Ds Charlotte Sibanyoni-Mahlangu haar getuienis met ons deel van haar lewensverhaal wat wilde draaie gemaak het, sien jy ‘n reis van menige hande. Sy begin haar storie as ‘n huiswerker se kind wat in die township beland, later in pleegsorg geplaas word, dan na ‘n kinderhuis, waar sy ‘n paar jaar later weens haar rebelse gedrag ‘vriendelik’ gevra word om te gaan. Sy beland in ‘n buitekamer van ‘n besorgde skoolvriendin. Word saam kerk toe genooi, tussen ‘ou toppies’, waar die predikant haar raaksien en hom oor haar ontferm. Onder weldoeners se sorg begin sy later teologie studeer en ontvang uiteindelik haar graad, Cum Laude! Haar pad bereik ‘n hoogtepunt wanneer sy in die kerk gelegitimeer word as ‘n predikant. Keer op keer het iemand gehelp om haar uit die modder te trek. Ander wat geblom het, se saadjies van liefde het in haar begin blom. In haar stukkendheid was dit hul omgeeharte en sagte hande, wat haar nader en nader aan die kruis getrek het. Haar teksvers uit Romeine 5 beskryf sy as haar “go-to-versie” wanneer sy twyfel ervaar: “…Want swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het…” Tussen die klippe en krake het Charlotte begin blom totdat sy die plato bereik het waar sý weer saadjies in ander se harte kan saai.
Ek besef meer en meer dat ons moet waak om in ‘n gemaksone te beland waar ons so tevrede raak met ons sonhoekie waar ons floreer, dat ons die geleenthede mis om uit te reik en ‘n verskil in ander se lewens te maak. Êrens is ons gawes bedoel om tot seën te wees vir ander. Soms is dit ‘n saadjie van liefde, ‘n oor wat luister, ‘n hand wat uitreik. Hoe ons iemand laat voel, is dalk die eerste stap vir iemand om te begin blom.
In ons besige lewens waar alles dikwels oor ‘me, myself en I’ gaan, en waar ons soms so moet stoei om ons eie plekkie te vind, mis ons die groter prentjie. As ons ‘n tree kon terug tree, sou ons baie meer waardering vir die veld vol blomme gehad het, as die enkele geletjie langs die pad. Hoe jy ander laat voel, het meer waarde as wat jy soms vir hulle doen.
Nemesia koshuis het uiteindelik die sêr kompetisie gewen, ‘n wonderlike mylpaal vir my HK-kultuurkind, tog sou dit min werd gewees het, as ‘n trofee al was wat hul van haar onthou het.
Ek bid dat my nalatenskap vir my kinders baie meer as net ‘n taxi-ma sal wees, maar eerder as iemand wat in hulle glo en aanhou om die mooi in hulle te sien. Iemand wat probeer om in Jesus se voetspore te stap en hulle in die rigting van die kruis te lei. Vir my pasiënte is my omgeehart en luister-oor dalk meer belangrik as die geel en blou pilletjie op die rak.
Blom waar jy geplant is. Verseker. Maar blom so dat meer mense rondom jou wil blom. Dis die uitdaging aan myself. God se droom is dat elkeen sy plekkie sal vind en dat ons saam die lewe sal mooi maak…blom, en laat blom!