Lente in die sneeu
Dis lente in die Boland, sing my hart vroeg vanoggend. Septembermaand het aangebreek. In die binneland, beslis al lente, maar in die Kaap, dalk meer op papier. Daar lê immers nog sneeu op van ons berge! Tog kan nie die wind of reën keer dat dit elke dag ‘n bietjie vroeer ligter word nie. Lig verdring die duisternis, só waar.
By die kerkbasaar sien ek vir tannie Anna en oom Christo. Oud-predikants paar en gemeentelede wat diep spore hier getrap het en ook ‘n groot rol in my lewe gespeel het. Hul bly nou in ‘n versorgingsoord en is diep in hul 90’s. Spesiaal gaan haal om saam basaar poeding te kom geniet. Sy lyk verwese en klein waar sy in haar rolstoel sit. Haar gesig verhelder toe sy my herken. Dis moeilik om haar so te sien. “Dit gaan goed met my gesondheid, maar nie met my hart. Ek mis dit om hier te kom. Ek kry swaar…” Haar antwoord raak my hart. My stukkie lente het vanoggend begin met vars lug buite, die son wat opkom oor die berg, jasmyn langs die drafpad en duiwe wat vrolik koer. Haar lente was ‘n uitstappie na die gemeente vir wie sy so lief was, om êrens tussen ander mense ook ‘n bietjie basaarpoeding te kan eet.
Lente…
‘n Seisoen waar die donker vir sommige mense donkerder word. Die duvet eenvoudig verder oor die kop getrek, omdat die lig te skerp voel vir hul gemoed. Lentebloeisels verstaan nie winterdorings nie. Ek sukkel ook daarmee. Ek wil die gordyne oopruk, deure oopmaak en die vars lug innooi. Ek wil jou vat na bruisende riviere en hoë bergtoppe. Al weet ek dis dalk nog ‘n bietjie koud daarbo wil ek vir jou die uitsig gaan wys.
My lentekos lyk dalk anders as joune…
Jesus het gesê, My juk is sag en My las is lig. Hy werk sagter as ons. Hy ruk nie gordyne en vensters oop nie, Hy laat die voëltjies bietjie vroeër sing, laat roosknoppies buite bot en bring die son terug na sy binnebaan. Hy staan by die deur en klop, nooi jou om die deur dalk net ‘n skrefie oop te maak. Te waag om die duvet ‘n klein stukkie te laat sak. “Kyk, Ek maak alles nuut.”
Vandag bid ek vir tannie Anna en almal wat oud is en alleen. Waar die hart swaarder kry as die lyf. Mag die opvangs helder in hul kamer klink, die kerk deur die plavon beweeg. Ek bid vir winterdorings wat bang is vir die lig. Om vandag te waag om die deur ‘n skrefie oop te maak. Toe te laat dat die Vader se liefde hul omhels. Sy genade is nuut, elke môre.
Dis lente in die Boland. Ek is dankbaar vir oggende wat vroëer lig is, vir beloftes uit die natuur dat die somer oppad is. Vir vars genade, vir nuwe krag.
“Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut!” Klaagliedere 3:22