Kameeldoringhout
Daar is goeie en slegte dinge van skool ‘gons-groepies’. Die goeie is dat jy so nou en dan belangrike inligting kry wat jy dalk êrens langs die pad gemis het. Die slegte is dat jy dikwels gebombardeer word met onnodige en sinnelose inligting, skewe kommentaar, opsweping en dan redenasies van alle kante af. So lees ek vanoggend ‘n stelling oor die nuwe skolewet wat iemand op ‘n ‘random’ groepie maak. Ek kan nie help om te wonder wat die persoon daardeur wou bereik het nie. Wou sy haar gevoelens deel, wou sy kommentaar uitlok of wou sy by ‘n oplossing uitkom? Hoeveel moeite doen ons soms om regtig uit te vind hoe sake staan, voor ons ‘n sin uit ‘n hoofstuk aanhaal?
In my eie lewe het ek geleer dat wanneer die wêreld met al sy dinge my wil oorweldig, ek eers ‘n tree moet terug tree na my eie binnekring. Moet krag optel en asem skep in my veilige hawe, voor ek weer kan uitbeweeg. Soms beteken dit dat ek die moeilike dinge eers voor die Here moet neersit, daaroor gaan oplees en ondersoek instel, voor ek ‘n uitspraak daaroor maak. Te dikwels het ek self al op die ingewing van die oomblik ‘n besluit geneem waaroor ek spyt was. Te vinnig op my perdjie geklim waar ek eerder moes gewag het. Daarom is dit nodig om eers ‘n tree terug te tree. As jou kommentaar onnodige angs en paniek saai, doen jy dalk meer kwaad as goed.
Die afgelope tyd raak ek meer en meer bewus van die noodsaaklikheid om stil te word en God se wil te soek. Nie net te gaan draf en bewus te wees van Sy teenwoordigheid nie, maar doelbewus te ‘pause’ en my lewe voor Sy voete neer te sit. Stil te word en Sy stem te hoor. In Eksodus lees ek dat Moses vir die Israeliete ‘n tent van ontmoeting opgerig het waarheen hul kon gaan wanneer hul na God se wil wou vra. Toe reeds het Moses die belangrikheid besef om God se teenwoordigheid op te soek.
So dikwels open ons ons vergaderings met skriflesing en gebed maar los God net daar by die begin van die vergadering. Wanneer die tammeletjies op die pad kom, raak ons moedeloos en gefrustreerd. In plaas van om ons probleme in God se lig te sien, probeer ons tevergeefs om self al die kastaiíngs uit die vuur te krap. Ons verbrand ons vingers omdat ons dit op ons manier probeer doen.
Op die radio luister ek na ‘n storie wat Wouter Snyman deel. Hy vertel van ‘n geselligheid waar die vuurtjie net nie aan die gang wou kom nie. Die houtstompe was van daardie tipe hout, wat eenvoudig net bly rook het. Uiteindelik het hy besluit om van sy Kameeldoringhout te gaan haal. Kort voor lank het ‘n gesellige vuurtjie gebrand. Danksy die regte tipe hout. Die wonder was dat selfs die eens rokende stompies, saam begin brand het. Sy boodskap was dat ons ook daagliks omring word deur rokende-hout-tipe-mense wat floreer op negatiwiteit en slegte nuus. Ons lewensstaak moet wees om soos die kameeldoringhout ‘n verskil te maak. Ons flammetjie so te laat brand, dat rokende stompe sáám deel van die oplossing kan raak.
Hoe kry ons dit reg? Beslis nie uit onsself nie. Dit begin by die tent van ontmoeting. Om daagliks soekend te bly na God se wil. Om ons probleme en uitdagings voor Hom neer te sit, eerder as om saadjies van paniek te saai.
Ons kan nie altyd alle groepies verlaat nie, ons hoef nie op alles kommentaar te lewer nie en hoef ook nie oor alles stil te bly nie. Ons mag besorg en bekommerd wees oor dinge wat ons angstig maak en kwaad word vir die regte redes. Tog moet ons waak oor uitsprake sonder kennis. Die vraag is nie altyd wat op ons pad kom nie, maar wat ons daarmee maak. Vandag gee ek die skolewet, Nasionale gesondheidsorg, Regering van nasionale eenheid en al hierdie moeilike dinge vir die Here. Ek bid vir goeie leiers op al die regte plekke. Vir kameeldoringmense in elke kring. Vir God se sorg en wysheid, vir ons skoolhoofde en onderwysers, vir ons as ouers en ook ons kinders.
“Josafat was bang, en het by die Here hulp gesoek. ” 2 Kronieke 20:3
Tent van ontmoeting is die plek waar rook-stompe in flamme verander.