Bella

Haar naam is Bella, het ek gelees. Sy was gekies as die ‘mascot’ vir die Springbokke vir hul wedstryd teen Argentinië. Ek lees verder dat sy ‘n kankerleiertjie is en deel was van die ‘ Reach for a dream’ projek. Die video waar sy haar uitnodiging ontvang het, bring trane in my oë. Haar trane van ongeloof en blydskap gemeng, raak my diep. Ook Siya Kolisi se hart, wanneer hy vir haar ‘n boodskap van bemoediging stuur. Haar storie word deel van ons storie. Die trofee bring ‘n ander perspektief.

Na ‘n paar dae van verlof, is ek weer oppad werk toe. ‘n Naweek se wegbreek, boek lees, puzzle bou, bergklim en kuier met ‘n hartsvriendin was deel van my ‘wegbreek’. Dit was goed maar voel nie heeltemal genoeg nie. Ek kon nie stop en skryf nie. Wou ook nog huis regpak en ligter maak, maar vind myself waar ek bloot net nuwe hopies maak. Die kwartaal se program is reeds opgeskryf. Tot die eksamenrooster is daarop. Haal net asem, wil ek roep… Dan onthou ek vir Bella.

Ons lewens is eintlik maar soos sirkels inmekaar. My sirkel, jou sirkel en êrens raak dit deel van mekaar se patroon. Almal met ‘n stryd, net ‘n ander naam. Die Bokke wil die beker wen, maar wanneer Siya se sirkel deel van Bella s’n raak, kom daar ander motivering. Wanneer my opstaan, werk toe gaan en opdaag vir dinge, deel raak van ander se verwagting, hul probleme en swaarkry, kry dit nuwe dimensie.

Jesus se laaste woorde aan sy dissipels is dat hulle krag sal kry wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en dat hulle Sy getuies sal wees. Dit gedeelte in Handelinge tref my opnuut, want dis sy klein groepie dissipels wat in hul onvolmaaktheid staan en kyk. “Hulle het Hom aanbid, al het van hulle getwyfel…” Hierdie groepie mense keer die wêreld om met hul getuienis, selfs met hul twyfel. Dis juis in ons swakheid waar Jesus se krag die beste deur ons kan werk.

Ek ken geen detail van Bella se verhaal nie maar haar kort haartjies en kopband vertel ‘n storie van trane en berge klim agter die skerms. Om die Springbokke te ontmoet raak haar droom. Omdat hul veg en baklei en alles in die stryd werp om bo te kom. Dalk deel van haar verhaal van aanhou opstaan en probeer. Moedhou en vorentoe kyk.

My lewe kry ekstra ‘purpose’ wanneer dit nie meer net oor myself gaan nie. Ek raak opgewonde as ek sien dat ‘n dagboek vol sonars op my wag. Paartjies wat angstig wag op goeie nuus oor ‘n swangerskap. Mense wat antwoorde of oplossings soek vir hul probleme. Selfs as ek later in die aand by die begrotingsvergadering instap, weet ek dat ek in my onkunde bruikbaar is vir Hom. Dat ek soms geplant word in vreemde situasies om Hom te verheerlik.

Ek staan dus op en skep nuwe moed. Jesus het beloof….’onthou, ek is by julle tot aan die voleinding van die wêreld.’ Ons stap nie alleen nie. Hoe wonderlik as ons mekaar kan raaksien en uit ons eie sirkeltjie kan klim, wetend dat ons ‘n groter doel het waarvoor ons leef.

Vandag sê ek dankie vir Bella, vir Reach for a dream, Siya en soveel ander wat inspireer met hul stryd en trane, drome en soeke. Wat ons herinner dat die lewe oor soveel meer gaan. Wat ons uitsig verbreed en ons opnuut ‘n rede gee om op te staan en weer te probeer.

Selfs in hul twyfel, het hulle Hom aanbid.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories