Wat ons nie weet nie
Dit het gelyk of die seuntjie ‘n tantrum wil gooi. “Wil jy ‘n ‘treat’ hê”, wou die mamma weet. “Kinders van vandag”, het die ouer vrou in die restaurant opgemerk, en haar kop misnoënd geskud. In die volgende toneel klim ‘n jong meisie uit ‘n spoggerige kar. By die betaalpunt vra sy om op rekening te betaal. Die kliënt agter haar, skud haar kop oor mense wat nie kan betaal nie maar ‘n sportkar ry. In die derde toneel, raak die bestuurder ongeduldig oor die man wat so traag voor hom ry. “Is jy lekker in jou kop”, snou hy hom toe, terwyl hy verby hom jaag.
Wat jy nie weet nie, is dit wat 20 minute gelede in elkeen se lewe gebeur het.
Dis die derde pleegmoeder vir ‘n seuntjie wat mishandel was. Dis nie sy mamma nie, maar ‘n omgee-tannie wat hom 20 minute gelede opgelaai het na sy nuwe huis. Sy het vir ‘n ‘treat’ gestop. Die kar van die meisie, is vir haar geleen deur ‘n vriendin wat gou haar kind oppas en haar help om op haar voete te kom. Die man in die kar, het sopas slegte nuus van die dokter gekry. Hy is ingedagte en wonder hoe hy die nuus aan sy kinders gaan vertel. Drie stories, drie verkeerde gevolgtrekkings.
Hoeveel keer trap ons nie self in daardie strik nie. Beoordeel ons mense en situasies op grond van wat ons sien, sonder om iets van die agtergrond te ken.
Op sosiale media word ‘n kerk afgeskiet wat ‘n feesmark met ‘n biertent en speelpark adverteer. Die kommentaar wat volg is erger as die gedagte oor ‘n biertent. Ek kan nie help om te wonder waar Jesus in die proses staan nie. Dalk nie by die feesmark nie, maar beslis ook nie by die klipgooiers nie.
In die week luister ek na Zantie Swanepoel wat die waarde van ‘pause’ uitwys. Om nie dadelik ‘n email terug te skryf of onmiddelik te reageer nie. Miskien net eers ‘n tree terug te gee voor jy oordeel of daarop antwoord. Ons kan nie altyd kies wat met ons gebeur nie, maar ons kan kies hoe ons op dinge reageer. Dikwels hang die uitkoms meer af van ons reaksie as die oorspronklike insident. “‘n Sagte antwoord laat die grimmigheid bedaar.”
Die boodskap van die videoclip was dat ons ‘kindness’ moet kies, omdat ons nie weet wat in ander se lewens aangaan nie. Dat ons sagter na ander mense moet kyk. “Mag ons liefde al hoe meer toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” Paulus se gebed in Fillipense 1. Jakobus stel dit selfs nog duideliker. “Elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat en stadig om kwaad te word.” Dalk die uitdaging vir die seisoen waarin ons leef, waar ‘n knoppie net ‘n vinger ver is. Kommentaar vrylik beskikbaar.
Mag ons woorde soos heuning wees. Goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe. Spreuke 16:24.
Twintig minute, ‘n dag, ‘n jaar… Agter die skerms is daar baie meer waarvan ons nie weet nie.
.