Meer as net ‘n (geel) jas

Wanneer ek ‘n goeie boek lees, is ek amper jammer as dit klaar is. Ek voel of ek die boek soos ‘n toffie wil herkou, die storielyn, karakters en verrassende einde. Sommige boeke spreek meer as ander en soms delf jy onverwags in ‘n verlede waarvan jy min van weet. Dalk die rede hoekom ek al hoe meer van geskiedkundige romans hou. Miskien weens die perskpektief wat ek kry en ‘n ander waardering vir die tyd waarin ons leef.

‘The orphan train’ deur Christina Baker Kline, beland onverwags in my skoot. Die verhaal speel af in die vroeë 1900’s in Amerika, ‘n tydperk gekenmerk deur baie immigrante opsoek na ‘n beter lewe. Ontnugtering, armoede en siektes het egter tot gevolg dat duisende kinders wees gelaat word. So ontmoet ons dan ‘n Ierse jong dogter wat op die Orphan Train beland saam met baie ander weesgelate kinders. Hul bestemming is die Midwest-streek met die plan dat mense kinders kan aanneem teen ‘n vergoeding en in ruil vir kos en klere en skoolopleiding. Vir klein kindertjies was dit dikwels ‘n sukses verhaal maar vir die ouer kinders was daar minder genade. Seuns moes op plase gaan werk en dogters het in huise gehelp met sleurwerk, kinders grootmaak, of selfs om klere te maak. Dikwels onder haglike omstandighede. Argief fotos agter in die boek van kinders op die trein, laat jou die werklikheid daarvan besef.

Die boek voel ver verwyderd van my eie kinders se lewe, waar sport en skoolaktiwiteite ons lewe bestuur en ons graag saam om ‘n etenstafel kuier. Soveel van daardie kinders moes hul identiteit verloor om te oorleef. Vreemde name aanneem en aan grootmense se genade oorgelewer word. Ons Ierse karakter is maar 9 jaar oud wanneer sy moet inval om klere te help maak. ‘n Moeilike reis volg daarna soos sy van 1 stel pleegouers na ‘n volgende beweeg…Jare later ‘pause’ die 90 jarige dame wanneer sy die lelike geel jas uit ‘n boks haal. Dit laat haar ver terug dink… maar hy beland nie op die weggooi hoop nie. Die boek reis vorentoe en agtertoe terwyl ons deur haar lewensverhaal vleg. ‘n Merkwaardige storie van uithou en aanhou. Die lewe met al sy kronkelpaaie.

Ek sukkel om die wreedheid van mense te verstaan en kan my nie indink dat jong kinders ingespan word om vir ander te werk nie. Die realitieit is dat duisende kinders steeds in vandag se tye wees gelaat word. Deur armoede, afwesige ouers en oorloë wat nie ophou nie. Afrika, Israel, Palestina, Ukraine…..In plaas van hokkie speel of droom oor ‘n toekoms, word hierdie kinders se lewe ‘on hold’ gesit en in ‘survival mode’ geplaas terwyl die wêreld agteroorsit en toekyk. Baklei oor wie reg en wie verkeerd is.

Nader aan my lyf, op my pad werk toe, stroom kinders ook daagliks uit sinkdakkies na die naaste skool. Hoe kom jul skoon, wonder ek gereeld? Hoe leer julle? Tog daag hul op. Met boeke in die hand skryf hulle ook Matriek. Swem Jannie swem, het die liedjie weerklink. Hier het jy geen ander keuse nie.

Sommige kom bo en ander raak deel van die statistiek. Hier en daar beland ‘n geel jas in ‘n boks van herinnering. Die teken van oomblikke in jou lewe wat ‘n blywende indruk laat.

Ons Ierse karakter kry dit uiteindelik reg om haar lewe uit ‘n ander hoek te kyk. Sy het min beheer oor baie van die kronkels in haar lewe gehad, tog word haar verlede deel van haar menswees karakter. Word sy die instrument wat perspektief gee aan ‘n ander kind se kronkelpad. Raak die mense wie se pad jy kruis, deel van jou storie.

Vandag is ek dankbaar dat daar nie meer treine vir weeskinders is nie. Tog is dit nodig om verder te kyk as die politieke sirkus. Weeskinders van Palestina én Israel, lyk eintlik presies dieselfde. Kinders wat net maar kind wil wees…

Sy het die geel jas terug in die boks gesit. Sy kon nie wegvlug van haar verlede nie maar dit het haar ook nie meer bedreig nie. Die jas was destyds te groot vir haar en baie lelik, maar het haar warm gehou. Sy wou dit nie saamneem na die nuwe pleeghuis nie maar die wyse tannie in die naaldwerk kamer het geweet dat die plaas buite koud sou word. Dieselfde tannie wat ‘n appel kon insmokkel wanneer die kos te min was vir ‘n lyfie wat moes groei.

Die bordjie met die Stellenbosch klok moet saamgaan na die nuwe huisie, het my ma aangedring. Vir ons net ‘n klipbord met ‘n mooi prentjie. Vir haar ‘n herinnering waar hul reis begin het. Ook sy kyk ver terug en onthou. Ophang bring die verlede na die hede. Nie om ons vas te hou nie, maar juis te herinner hoe ons tot hier gekom het.

‘n Geel jas, ‘n bordjie teen die muur, kinders in ‘n oorlog en ander uit ‘n sinkdakhuis. Oral loop daar stories rond. Mag ons in hierdie tyd sagter na mense kyk, minder klippe gooi en vingers wys, meer luister en minder praat. Mag ons dankbaar wees vir wat ons het en elke saamwees waardeer. Die lewe met al sy kronkelpaaie, meer as net ‘n (geel) jas. Soms is dit die storie wat ander moet hoor.

.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories