In daardie tyd
In daardie tyd…het mense vroeg opgestaan, en laat gaan slaap en met moeite ‘n bestaan gemaak. Is nuwe politieke leiers gekies, het oorloë gewoed en mense baklei. Was daar geweld op strate, droogtes hier en vloede daar. Het mense gesukkel en sommige gevlug. Het die jaar gekom en gegaan. Dit was ‘n tyd soos nou.
In daardie tyd was ‘n keiser aan bewind. Hy het bevele uitgedeel en mense moes opdaag. Sy naam was Augustus. Dit het verwys na sy status as “eerwaardig”. Volgens bronne het hy homself ook as ‘n god beskou. Dan besluit hy om ‘n volkstelling te hou. Die eerste ooit.
Dis tydens hierdie geskiedkundige gebeurtenis waar ons deur Lukas vir Josef ontmoet. ‘n Gewone burger van die dorp Nasaret wat na Betlehem moet reis, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het.
Nie Josef of Keiser Augustus is bewus daarvan dat hul besluite en bewegings deel vorm van ‘n groter plan nie. Chaos in die land soos mense moes beweeg. Blyplek soek en by familie tuisgaan. Opwinding en afwagting. Soos ‘n vakansiedorp wat lewe kry terwyl huise uit hul nate bars. Besighede floreer en herberge bereik ‘n piek seisoen. Keiser Augustus glimlag tevrede. Sy roem loop hoog en hy maak wat hy wil.
Op die kantlyn staan die ongenooides. Hulle wat nêrens hoort nie. Sommige sonder familie en ander dalk heeltemal vervreemd. In die oop veld ontmoet ons die groepie herders wat oor hul skape waak. Ver van die gedruis van mense. Ver van die politieke kring. Dis aan húlle wat die engel verskyn.
‘n Predikant noem in die week dat as iemand sou dink dat die evangelie ‘n mensgemaakte idee is, die kontras van hierdie storie, juis die teendeel bewys. Engele wat aan herders verskyn, geboorte in ‘n stal. Wat ‘n vreemde verhaal.
Op ‘n manier voel ons lewe soos die sensusverhaal. Waar mense jaag na winkels en beplan aan kersvakansies. Uittog na vriende en familie….en die keiser glimlag breed.
In die kerk hou ons kerssangdienste. Watter liedjies gaan ons sing? Tog net nie hierdie lied! Bring die kinders nader. Kry die engelvlerkies reg. Jesus in ‘n krip gebore. Mense staan en mense sit. Buite staan die herders reg.
In daardie tyd…is hierdie tyd.
“Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here. En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie kry wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
Die krip was die teken….maar die Verlosser is die boodskap.
Ongeag wat in hierdie tye gebeur. Watter politikus aan bewind is, watter natuurgebeure woed. Te midde van alles, is God in beheer. Ongeag watter liedjies ons sing of wie die rol in die kersverhaal kry, as ons die Verlosser mis, baat dit ons niks.
‘O die goeie tyding, o die blye tyding, helder klink dit in kersfeestyd.’ Min dinge so lekker as om kersliedjies te sing. Mag ons egter nooit so besig raak dat ons die wonder en die eenvoud mis nie.
Hierdie tyd is daardie tyd. Die verlosser ís gebore. Christus die Here! Die herders het nie net die teken gesien nie. Hulle het die Verlosser gevind.