Om sout te wees…

“Ek is ‘n pastoor”, het sy haarself voorgestel. Sy werk in Kaapstad en is oorspronklik van Duitsland. Sy het eenkant bly staan en verduidelik dat sy in die week baie met mense werk…Ek het iets daarvan verstaan. Ons was ‘n ‘random’ groepie mense wat aangetree het vir die staproete na Crystal pools. Die berge en natuurskoon het ons betower. Al langs die rivier het ons begin stap. Opgewonde om by die poele uit te kom.

Die groepleier het kort-kort gestop en koppe getel. Ons was 21 stappers in die groep. Twee was gedurig agter. Die een het duidelik swaar gestap. By die lang opdraende het ons ekstra lank gewag. Op die stapgroep boodskap was die roete as ‘moderate challenging’ beskryf, juis sodat mense moes weet waarvoor hulle opdaag.

Een van die ander groepleiers het aangedui dat hy vir haar sou wag sodat die res solank vooruit kon stap. Ons was almal ywerig om by die poele uit te kom. Naby die groot poel het ‘n paadjie skerp opgedraai. Dit was uitlokkend vir die avontuurlustiges onder ons. Die paadjie sou ons na ‘n ander poel neem aan die ander kant van die berg, maar ander stappers voor ons het verduidelik dat die pad uitdagend was veral by die bopunt, en ook nie goed gemerk was nie. Dit was duidelik dat die roete nie vir hierdie groepie bestem was nie. Ons het dus saam met die groepleier aangestap na die waterval soos beplan. Op die laaste deel van die roete moes jy behoorlik klim en klouter oor groot klippe om die poel te bereik. “I don’t like this”, het ons Duitse stapmaat ontevrede gemor. Sy was reeds gefrustreerd oor die lang wag, die pad wat ons nie kon stap nie en nou ook die groot klippe waaroor ons moes klim.

Harde werk is uiteindelik beloon met die mooiste prentjie van ‘n hoë waterval met ‘n heerlike (koue) swempoel. Uitspantyd!

Terwyl die meeste van ons al luilekker in die son gebak het na die verfrissende swem, het die sukkelende stapper en die ander groepleier uiteindelik opgedaag. Ek was verras dat sy steeds kans gesien het vir die klim en klouter en het stilweg die groepleier bewonder.

Met die terugkeer het ons die groep in twee verdeel. Díe wat haastig was om terug te keer en die wat rustiger was om stadig te stap. Ons was by die vinnige groep…die roete was pragtig, geselskap goed en die melkskommel na die tyd saam met my dogter, het dit ‘n ‘memorable’ uitstappie gemaak. ‘n Staproete wat al lank op my ‘bucket’ lys was.

Laat die middag het almal se fotos op die groepie verskyn. Almal het klaar gemaak, ook die stadige stapper. Daar was min van die Duitser wat haarself eenkant gehou het.

Ek het die vinger weggedraai van die pastoor en na myself gerig. Dis soms moeilik om ander se swaarkry te verstaan wanneer jy lig deur die lewe loop…Dis ook ok om soms te wil vlug en jouself eenkant te hou. Om alleen te draf en op jou eie te stap is nodig vir die kop. Die hartseer is egter dat ons goeie pastore en geestelike leiers raak op plekke waar dit vir ons saak maak, maar geleenthede mis waar ons sout moes wees. Ongemaklike plekke waar ons nie op ‘n verhoog staan nie. Dis juis hier waar ons die krag van die evangelie mis. Die waarde van sout wees…tussen gewone mense en op gewone plekke.

Die persoon wat die grootste impak gemaak het op hierdie roete, was die een wat sy eie gemak opsy geskuif het, en ‘n ander gehelp het. Die pastoor het min geblend, min gelei en traag gevolg. Haar teenwoordigheid het min geur gelos. Dalk sou dit beter gewees het as ons nie geweet het dat iemand ‘n pastoor is nie of dat een van die omgee leiers, nie ‘n gelowige is nie…

Kyk ek terug na die dag en die mooi roete dink ek steeds dat die stapper ander mense in ag moes geneem het en haar eie beperkinge geken het voor sy opgedaag het. Dit verskoon ons egter nie om die beste gebruik van ‘n slegte geleentheid te maak nie. Sout én lig, agter die skerms én op die verhoog. Bedoel om ‘n verskil te maak…oral waar ons beweeg. Juis wanneer ons onsself kinders van God noem.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories