Bucket list

Ek het die staproete in geloof bespreek. ‘n 5-Dag roete. Elke jaar was dit op my doenlysie, maar tussen universiteit, skoolvakansies en sporttoere het dit ‘n uitdaging gebly. Toe vat ek die wilde kans, bespreek, betaal en bid.

Daar was genoeg uitdagings om te oorkom. Eers moes ons die datum met ‘n dag vervroeg (vir ‘n sporttoer), toe hoor my seun dat hy die aand voor die stap tot 21h toets skryf en boonop werk my man daardie week uitstedig. Ek mis ‘n belangrike vergadering en my kind haar voor-toer oefening. Ons byt egter vas. Buig hier en maak planne daar. Ry laatmiddag en ander vroegoggend. Pak so goed ons kan. Ek bid vir goedheid en guns en dat almal veilig arriveer. Stilweg bid ek ook dat my kind sonder beserings by haar toer sal uitkom.

‘n Staproete vir vakansie? Die reaksie wat my kinders van hul vriende kry…

Dag een is moeilik en lank. Ook vol drama toe ‘n deel van die groep deur bye aangeval word. Gelukkig bereik ons laatmiddag die hut sonder verdere probleme. Die rivierswembad koel ons af en verkwik liggaam en gees. Elke dag het sy uitdagings maar geleidelik raak ons skouers sterker vir die las wat ons dra. Ons bereik groot hoogtes met die mooiste uitsigte en word bederf met proteas om elke hoek en draai. ‘Dit voel soos kamp’, som my een kind dit op. ‘Dis lekker’, sê die ander een. Geleidelik laai almal die kwartaal se pakkies af. Ons pak die mooi en goeie in. Beleef die melkweg, die sonsopkoms en doudruppels op die blare. Verkyk ons aan die spinnerakke in die veld, die mooiste blomme, groen berge, valleie en waterstome. “O Heer my God…as ek in eerbied wonder…” Ons word skatryk.

Die jongstes klim soos ribbokke en die jongmanne deel mekaar se laste. Ons vryf spiere en plak pleisters waar nodig is. Maak nog ‘n stapstok en wag tot almal bo is. Deel biltong en koffie, neem fotos en deel stories. Elkeen op sy eie pelgrimstog. Tog is ons saam op reis.

Vreemd genoeg rus ons uit. Ons rus van fone en tegnologie, speel kaart in die skemeruur en gaan slaap wanneer die nag verskyn. Die natuur se ritme voed ons en gee nuwe krag.

Op dag 5 voltooi ons die staproete met dankbaarheid en ‘n bietjie heimwee. Dit was goed. My hokkiekind is betyds vir haar toer sonder enige beserings. My ‘bucket list’, om saam met my gesin te stap, is ‘afgetick’ en almal se knieë, kuite en enkels het dit gemaak.

‘n Staproete vir vakansie? ‘n Besliste ja!

Waar ander ‘n swaar rugsak sien, lê die geheim in dit wat jy agter los. Net soos die staproete is die lewe ook ‘n reis. Soms het ons bloot te veel bagasie en moet ons leer om slimmer te pak om makliker vorentoe te loop. Jy klim die berg tree vir tree. Van blom tot boom tot die volgende draai. Kyk voor jou uit. Amper bo! Kies om jou te omring met mense wat vir jou wag of jou laste sal deel. Stop genoeg om die uitsig te bewonder. Genoeg padkos, maar nie te veel…Word stil en weet: Hy is die Heer. Vind jou krag in die Here en in Sy groot mag.

In die groter prentjie het ek, my gesin en hulle saam met ons, rus en kalmte gevind: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie….soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” Psalm 131

‘Bucket list’ afgemerk.

“Wat is ons volgende stap, mamma?” Musiek vir my ore….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories