Ligtorings – gebed vir Paastyd
“Too many people spend too much time trying to be the captain of someone else’s boat. Learn to be a lighthouse and the boats will find their way.” – unknown
In die week lees ek die woorde wat Zantie Swanepoel op haar facebook plaas. Dis so waar. Ons ken immers so min van ‘n ander persoon se boot. Wat weet ons tog van die bagasie wat hy saamdra. Tog is mense gretig vir kommentaar.
Dink ek aan die politiek van die dag, is daar meer verdeling as wat daar brugbouers is. Wil te veel mense kapteine wees en te min, vuurtorings wat lig bring.
Op Radio Kaapse Kansel vra die pastoor in die week wanneer laas daar ‘n nasional dag van gebed was? Dalk tyd om daai tree terug te tree en stil te word. Ons land en sy leiers opnuut aan die Here op te dra. Tog is die spreekwoord waar: vee eers voor jou eie deur. Ons doen immers meer skade wanneer ons met die Bybel onder die arm preek, maar met die ander hand of met ons woorde ander afbreek.
In 2 Korintiërs 5 lees ek dat die boodskap van versoening aan ons toevertrou is. Die vers wat vooraf staan, verduidelik dat ons niemand meer volgens menslike maatstaf beoordeel nie…omdat die liefde van Christus ons dring…om soos Hy te lewe.
In my eie werk word ek daagliks gekonfronteer deur hartseer stories. ‘n Dertienjarige wat swanger is, ‘n Hiv babatjie wat wag vir aanneming, mense wat in die siklus van verslawing bly, ander wat sukkel om die lig te sien. Ek sien kinders met angs en groot manne wat huil. Vroue wat mishandel word en mense wat keer op keer verkeerde afdraaie kies. Op geen manier kan ek die kaptein word van hul bote nie. Ek ken nie hul grootwordjare, huislike omstandighede of interne worsteling nie. Ek kan net ‘n ligtoring probeer wees.
Dink ek aan ons land, kan ons verseker doen met minder vingerwysers, minder veroordeling en minder self-aangestelde kapteine. Daar is ook geen rede hoekom elkeen wat bekommerd of angstig voel, nie self ‘n biddag kan uitroep nie. Miskien is ons kruispad na Paasfees juis die tyd om ons eie harte skoon te maak. Ons twyfel, angs, kommer en oordeel oor ander neer te sit. Om te bid dat die Here ons harte sal verander en ons oë sal oopmaak om soos Hy te kyk. Hom toe te laat om meer deur ons te werk. Dan kan ons twee-twee vergader, in ons gesinne, omgeegroep en kerke en saam bid. Waarom wag vir ‘n nasionale biddag as dit binne ons eie bereik is? “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom…” I Kor 2:12.
Minder woorde, meer lig. Minder oordeel, meer liefde. Minder kapteine, meer ligtorings. Die boodskap van versoening is aan ons toevertrou.
Kinders van die Here…die Gees wat God ons gegee het maak ons (immers) nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. 2 Timoteus 1:7.
Geroep om Ligtorings te wees. Die boodskap van Paasfees. Biddend op die pelgrimspad. Juis vir ‘n tyd soos nou.