Brakanjan
Terwyl ek op die wandelpaadjie stap, herleef ek my laaste stappie saam met ons seuntjie-hond. Hy kon nie meer ver stap nie, maar sy gees was, soos altyd, uiters gewillig. Regop en trots sou hy begin. Amper met ‘n draffie, net om te wys hy dat hy nog kan. Onder by die paadjie het ek hom los gemaak want hy kon in elk geval nie meer ver afdwaal nie. Hy het gesorg dat hy my in die oog hou, veral omdat hy nie meer kon hoor nie. Die terugtog was moeiliker. Bult op en ‘n beentjie wat kort-kort wou swik. Tog het die stertjie bly waai en was daar vrede in sy spaniel-lyfie.
Brakanjan…ons enigste reun ooit, vader van vele en die hond met die mooiste hart. Van hom het ons geleer van liefde en lojaliteit. Spreuke 3 was sý versie “Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie. Leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe.” In kort gestel: ons kan by honde leer…
Paasfees is verby en die politiek oorheers soos altyd. Eintlik is daar min verskil tussen nou en destyds. Die kruisiging het gebeur en die Romeinse ryk was steeds in beheer. Die vakansiedae is verby en die eksamen is naby. Die winter is op ons en die nagte raak lank. Die lewe met al sy dinge. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en met moeite ‘n bestaan maak”, koggel die woorde van die Psalmdigter ons. Die dissipels wonder ook oor al die dinge. Dan staan Jesus in hul binnekring en groet hul met die woorde: “Vrede vir julle.”
Vrede, te midde van, ten spyte van. Liefde en trou, saadjies van die ewige koninkryk. Kyk anders, dink anders, doen anders.
Jesus groet ons nie net met Sy vrede nie, Hy laat ons ook met ‘n belofte: “Onthou, Ek is by julle tot die voleinding van die wêreld.” Merkwaardig dat Matteus, die tollenaar, die een was wat hierdie woorde vir ons vasgepen het. Die eens uitgeworpe persoon, word deur Jesus gekies om sy instrument te word.
“Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moenie bang wees nie.” Johannes 14:27
Dink ek terug aan Brakkie, soos ons hom genoem het, was dit duidelik dat hy gemaklik was met wie hy was. Liefde en trou het maklik uit sy lyfie gekom en hy het vreugde gebring waar hy beweeg het.
Wanneer ons in God se “authority’ leef, het ons ook niks om te vrees nie. Ons hoef nie méér van onsself te dink nie, maar beslis ook nie minder nie. Julle is die sout vir die aarde, het Jesus gesê. Nie bedoel om in ‘n soutpot te bly nie, maar om geur te gee en te keer dat dinge verrot. Liefde en trou, is die sout se geheim. Daardeur maak ons ‘n verskil.
Ou Brakanjan is nie meer met ons nie, maar sy nalatenskap is groot en daarvoor sê ek dankie. Ons eer sy lewe en die saadjies wat hy in ons huis gesaai het.
Ons lewe is ook kort. Elke dag tel ons die pen op om ‘n stukkie by te skryf. Matteus het sy geldsake verruil vir die evangelie. Hy het reg gekies. Miskien is die vraag vandag, watter nalatenskap ek en jy gaan los?
"Mag ons omgee en liefhê en so Sy beeld uitdra in 'n wêreld wat verward is en na ware liefde vra..."
“Onthou, Ek is by julle…”, Jesus se woorde. Watter versie sou joune wees?