Kookpot

Sy was moeilik. Ek kon aflei dat die items R1 duurder by die betaalpunt was as op die rak. Iemand het gaan kyk. Die tannie het aanhou skel en in gebroke engels bygevoeg dat sy op sosiale media gaan vertel hoe hulle mense indoen. Die meisie agter die toonbank het verbasend kalm gebly. Ek kon nie help om te wonder wat onderliggend in die tannie se lewe gebroei het dat sy so erg oor R2 wou oorkook nie?

‘n Week later begin ek in my eie lewe ervaar dat ek ook nader aan oorkook kom. Te veel dinge laat my krapperig voel. Terwyl ek in die nag oor my frustrasies tob,  besef ek dat die grootste rede hiervoor is, die erge druk waaronder ons werk. Om nie te praat van ‘n besige huishouding met alles en nog wat nie. In die proses is dit klein dorinkies op die paadjie wat te veel raak om uit te trek. Kookpot medisyne.

In die middernagtelike ure laai ek pakkies af en stoei en baklei ek my moeg, voor ek met díe wete aan die slaap raak: Dis tyd. Berge tyd. Ek verruil dus my pad drafskoene die volgende dag vir bergskoene. Vir stil word saam met die Here.

Die helder maan verlig my paadjie. Eers is hy links van my, dan voor my, dan regs en dan weer aan my kant. Psalm 121 se woorde vul my kop. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie bedreig….ek ervaar die Here se teenwoordigheid en die fluister van Sy stem: Ek is voor jou, langs jou, agter jou, Ek is in jou….

Die mis lê laag in die vallei, voëltjies sing vrolik en fynbosblomme betower my. Eindelik steek die son sy kop agter die berge uit. Min dinge so mooi soos die dagbreek. Terug by die kar jaag my asem, maar my kop voel skoon. “Ek het rus en kalmte gevind…”

Aanvaar wat jy nie kan verander nie, prioritiseer wat gedoen moet word, maak tyd vir die Here en raak rustig. Dalk Daniel se geheim in sy besige skedule. Tyd vir gebed gee krag vir die leeukuil.

Later die oggend luister ek toevallig na ‘n potgooi van oom Angus Buchan. Hy vertel van sy jare lange gewoonte om elke oggend 4h op te staan om stil te word voor hy met sy dagtaak begin. Dan verwys hy na Jesus wat self gereeld teen die berg opgeklim het om homself te gaan afsonder, sodat Hy tyd met Sy Vader kon spandeer. Hoe besiger ons lewe, hoe meer tyd moet ons met Jesus spandeer.

Ek weet steeds nie hoekom die vroutjie so kwaad geword het nie. Dalk was dit haar persoonlikheid of het iemand anders haar tenagekom. Miskien was R2 baie werd vir haar. Wat ek wel weet is dat ons moeite moet doen om betyds af te koel. Die lewe se eise stoot almal se temperature op. Druk van buite en druk van binne laat ons vinniger kook. Aanvaar dat sommige balle op die grond gaan val, is my raad dikwels aan nuwe mammas. Nie alles is ewe belangrik nie. 

Sit jou pakkies betyds neer. Verkieslik sommer by Jesus se voete. Haal asem. Klim ‘n berg as jy kan of kom net buite. Sien die sonsopkoms raak, gaan kyk na ‘n blom. ‘n Bietjie oefening is beter as geen. Lag vir jouself, glimlag vir die bestuuder langs jou. Waag om te lewe.

Ek vat die raad vir myself en ontmoet Jesus in die berg. My termometer lyk weer gesond en my emmertjie loop oor van dankbaarheid. Oorloop is nie die probleem nie. Dis wat die hart van vol is, wat die mond van oorloop…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories