Oomblikke

Ek het vroeg opgestaan en na die Strand gehardloop. Die mooiste sonsopkoms het my begroet. ‘n Palet van kleure: geel, oranje, pienk en sagte pers. Sy genade is vir almal bedoel, het ek opnuut beleef. Ons hoef nie eksotiese plekke te besoek om mooi te ervaar nie. Soms moet ons net ons roete verander en waag om te gaan kyk.

Die volgende oggend is ek nog vroeër wakker. Ek haas my om weer prentjies te gaan vang. Ander wolke in die lug vertroebel die kleure en keer die palet van die vorige dag. ‘n Geel kol in die verte kondig die dagbreek aan, maar nie naastenby so mooi soos die vorige dag nie. Sommige oomblikke moet jy aangryp as dit op jou pad kom, het ek besef. Tog word ek nie teleurgestel nie. ‘n Ander verrassing wag op my. Die strandmeer se mond het onverwags in die nag oopgegaan en ‘n bruisende rivier was besig om in die see te loop. Een van daardie opwindende gebeurtenisse in die klein kusdorpie om te beleef. Ek vang die oomblik vas en stuur ‘n kiekie vir die slapendes by die huis. ‘n Wekroep dat die dag wink. ‘n Uitnodiging om te kom kyk!

Van die mond af, volg my roete die spoor na die klein heuwel aan die kant van die dorp, ‘n gunsteling vir my. Dis klim en klouter tot jy bo is. In my stilword tyd die vorige aand, het ek ‘n stukkie gelees oor die berge in ons lewe. Uitdagings wat ons pad moeilik maak. Soms laat die Here berge verdwyn, ander kere maak Hy ‘n pad om die berg, maar wanneer jy nie ‘n keuse het nie, gee Hy jou die krag en die gereedskap om die berg tree vir tree te klim. Terwyl ek stap en hieroor peins, besef ek dankbaar dat ek reeds besig is om die berge in my eie lewe te klim. Dat Sy genade altyd genoeg is.

Later die dag lees ek ‘n gedeelte uit ‘n boek met die titel, Kalmte in die malle gejaag deur Johannes de Villiers. Hy praat oor die term, ‘mindfulness’ wat eintlik daarop neerkom dat ons meer bewustelik moet leef. Vir my is die natuur die plek waar ek ‘beleef’. Terwyl my seun nog hardloop om sy stastistieke te verbeter, is ek dankbaar dat ek ‘n ander seisoen bereik het. Die seisoen van waardering, soos ek dit noem. Waar ek dankbaar is bloot vir die feit dat ek weer na beserings kan hardloop, dat ek gemaklik kan asemhaal, dat ek fynbos kan sien en voëltjies kan hoor. Dit raak irrelevant hoe lank of ver ek hardloop, of ek stap, draf of eers stop om die uitkyk te bewonder. Dit word my kerk waar ek Psalms sing, laste neersit en genade proe. Krag inskep en ‘n loflied sing.

“Ek wil vroeg opstaan… met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Ek wil U lof besing, want U liefde reik tot in die hemel, U trou tot in die wolke!” Psalm 57

Kalmte in die malle gejaag begin vir my waar ek God se stem kan hoor. Soms lê die moeite juis om tot stilstand te kom. Stilte te soek en in die oomblik te leef. Elke sonsopkoms is dalk nie so mooi nie, maar daar is iets mooi in elke sonsopkoms. Elke dag is dalk nie goed nie, maar daar is iets goeds in elke dag.

My kinders het gewaag om op te staan en die wonder te beleef. Dis ons taak om oomblikke vir ons kinders te wys en hulle te leer om die mooi raak te sien, net soos dit hulle voorreg is om ons weer kind te laat word. Mag ons vandag oop wees om oomblikke te vang en iets goeds in hierdie dag te ontdek.

“Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” Psalm 34:9

Jy hoef nie net na ander se foto’s te kyk nie. Sy genade is ook vir jou bedoel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories