
Aanhou soek
As ‘n kind, was ons Julie vakansies sinoniem met ‘n besoek aan ‘n Wildtuin of Wimbledon tennis by die huis. Wanneer ons die Kruger Wildtuin besoek het, het my pa graag ‘n wye daai gery sodat ons by die Noorde ingery en afgetoer het na die Suide. Punda Maria was dikwels ons eerste stop en het nou nog ‘n spesiale plek in my hart.
Hierdie karafaan vakansies bly nog vir my van die wonderlikste gesinsvakansies. Ons samesyn in die kar, naartjies eet, saam soek vir wild en doodstil bly as ons die wonderlike tonele aanskou, is vasgevang in my kop. In die aand was dit kampvuur, ‘marshmallow’ braai en vroeg gaan slaap. Soms het my pa ‘n boek voorgelees tot almal een vir een aan die slaap geraak het. In die oggend is ons met slaapklere en al in die kar gelaai tot ons by ‘n piekniekplek gekom het. Wonderlike dankbare tye.
Die jare wat ons by die huis gebly het, was Wimbledon-tye. Dan het ons eie tennis natuurlik ook ‘n hupstoot gekry en het ons self ure op die tennisbane spandeer.
Ek verlang hierdie jaar veral na die wildtuin met sy ander vrede, maar kyk steeds tennis. Deesdae met ‘n ander oog en uit ‘n ander hoek. Miskien omdat my eie kinders ook heelwat tennistoernooie gespeel het en ‘n mens ‘n klein kykie in hierdie emosionele wêreld gekry het. Waar jy ‘n groter begrip het van vriendskappe agter die skerms maar moeilike opponente op die baan.
In my eie ervaring is tennis seker een van die beste, maar soms moeilikste leerskole vir kinders. Waar jy met ander sportsoorte in spanverband meeding, is jy met tennis, alleen op die baan. Moet jy self leer om diep te delf as dinge nie goed gaan nie. Jy leer van wen en verloor, van onregverdigheid en dat die lewe soms teen die verloop kan skeef loop. Soms is jy gelukkig en beleef jou opponent ‘n slegte dag. Ander kere is jy op die kruin van dinge en beleef jy ‘n goeie dag. Die lewe met sy oppe en affe.
Wanneer Alexander Zverer teen die verwagting vroeg in die toernooi uitgeskakel word, maak hy ‘n dapper bekentenis: hy voel alleen op die baan en sukkel om vreugde te vind in wat hy doen, op en van die baan af. Selfs wanneer hy wen, is daar min vreugde. ‘n Hartseer erkenning, maar moontlik die verwoording van baie ander spelers se belewenisse.
So dikwels by my eie werk, vra ek vir mense wat hulle geniet in die lewe. Dan raak hul stil, want êrens het die druk te veel geraak en ‘joy’ het langs die pad verdwyn.
In Spreuke 30:8 lees ek ‘n vreemde gebed. “Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, of, soos die 2020 vertaling dit stel, breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie te veel sal hê en u verloën en sê: ‘Wie is die Here?’ nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se naam oneer aandoen nie.” Om genoeg te hê, maar nie te veel nie, dalk een van die sleutels. Om te midde van dit wat ons dryf in die lewe, steeds vreugde in eenvoud te kan vind… Om afhanklik te bly van die Here, veral as dit goed gaan. Om ons oog op die groter wenstreep te hou, dalk die belangrikste doel.
Dink ek terug aan ons wildtuin vakansies, was dit ‘n komma in ons gesinstyd. Meer as net die wonder van die natuur het dit ons nader aan mekaar gebring. Djokovic se gesin gee vir hom perspektief oor dit wat regtig belangrik is al jaag hy steeds die kroon. Daar is niks verkeerd met ons strewe om die kruin te bereik nie, maar balans bly nodig. Soms is dit nodig om ‘n tree terug te gee en te vra wat werklik belangrik is. Jesus het self die volgende stelling gemaak in Markus 8: “Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?”
Soms moet ons ‘n tree vorentoe gee en opnuut perspektief gaan soek. Dalk vreugde in eenvoud gaan vind. Om jou te kyk en waardering te vind in dit waarvan jy genoeg het. Ek lees onlangs die volgende raak uit ‘n mede-blogger se pen:
Mag ons soek nooit opraak nie
Nie ons soek na mense en goeters nie.
Moet nooit ophou soek na jou wildste drome nie.
Ook nie na jou diepste passie nie.
Gaan delf diep en soek jou purpose.
Soek na betekenis, soek vir God.
Soek Sy stilte, waar al ons antwoorde lê.
Soek elke dag, grawe en ontdek.
Soek dit wat jou lewensvuur hoër laat brand...
Ons soek mag nooit opraak nie
Uit Sit aan die ketel
Www.sitaandieketel.co.za
Deur Yolande Brittnell-Steyn
Jesus sê in Johannes 10 dat Hy gekom het sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Wat ‘n stukkie genade as jy dít kan vind wat regtig versadig maak.


