Tienertoneel

Tienertoneel is nie vir almal nie.

Jy moet aanvaar dat jy nie van alles gaan hou nie en jy moet ontvanklik wees om te luister. Soms moet jy die skoen aantrek as dit jou pas of waag om jouself in die spieël te erken. Ander kere moet jy bloot die broosheid en soeke van die mens raaksien. Die grond afgooi en dieper gaan kyk. Onderliggende vraagstukke erken en dalk ‘n stukkie nabetragting gaan doen. Selfs ‘n blog gaan skryf! Of dalk moet jy net jou skoene uitskop en die kreatiewe kuns van drama geniet. Iemand het ‘n storie wat vertel moet word…

Ek hou van tienertoneel.

Sonder vulgêre grappe en onnodige gevloek, moet ek bysê. Ek hou ook nie van veralgemening oor kulture en godsdiens nie. Tog is dit juis daar waar ons fyn moet luister. Omdat persepsies geskep en vertroetel word deur almal van ons. Van alle hoeke af. Soms deur die nalatenskap van ons voorouers maar ook deur die manier wat ons steeds na ander kyk.

Wanneer kerkleiers telkemale as harteloos uitgebeeld word, kan ek nie help om te wonder hoeveel seerkry al in die verlede deur kerke en gelowiges veroorsaak is nie. Na buite, soos die dramastukke dikwels dinge uitbeeld, maar ook na binne. Ek ken self heelwat predikante wat uit die bediening getree het omdat hulle eenvoudig nie meer aan al die verwagtinge kon voldoen nie. Soos ‘n goeie vriend eendag oor sy preke geskryf het: “Dan te kort, dan te lank, te veel oor geld, te min oor geld, te hard, te sag…” Ook sy huishouding het deurgeloop. “Te min by sy huis, te veel by sy huis. Vrou werk te min, vrou werk te veel, kinders te besig…”Natuurlik is die teendeel ook waar dat baie predikers geliefd is en werklik ‘n verskil maak en dat gemeentes op baie gebiede Jesus se hande en voete probeer wees. Ongelukkig verkoop goeie nuus nie so goed nie…en is daar min plek daarvoor op ‘n verhoog.

Terug na die tienertoneel. Die stywe Boordjie bulder die gebooie uit. Kinders sit kitsregop op harde houtbankies. Laat die kindertjies na my toe kom, fluister Jesus in my Bybel, maar ek sien Hom nie op die verhoog of daardie kerkbanke nie. Dan word die jong meisie swanger en die vet is op die vuur. Vingerwys verwyte, donkernag planne en ‘n kind wat in die stilligheid verdwyn. Waar kom babas vandaan, mamma? Die onskuldige vraag tussen die bourommel.

Wanneer het ons U verloor? Kan ek nie help om te wonder nie.

“Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om dit te red”, was Jesus se eie woorde in Johannes 12. Volg my, nooi Jesus uit. Wees My hande en voete.

Dramastukke raak die vergrootglas waar waardes en vraagstukke ontbloot word. Die lewe is moeilik vir grootmense maar net so “tough” vir kinders. Mense is oorwerk, oorloë hou nie op nie, fone bly in die hand en niemand vind bevrediging nie.

Waar pas kinders van God in die prentjie?

Die wêreld het egtheid nodig, opregte omgee. “Julle is die sout vir die aarde.”(Matteus 5)…Mag ons meer luister, minder oordeel, meer wéés, minder woorde. Meer waaksaam oor die spore wat ons agterlaat.

Wanneer ons by Jesus aanklop, rig Hy ons voetstappe op die pad van vrede. (Lukas 1). Dis waar sout sy waarde vind. Mense bly soek, maar vind nie. Hulle skree uit maar word nie gehoor nie. Ons mag nie die aanklagte mis nie. Ons moet waag om uit ons gemaksones te kom sodat ons die lewe ook deur ander se oë kan beleef.

Tienertoneel, dalk juis vir almal bedoel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories