
Stilte
Ek het nie woorde gehad nie. Ek het gelees, geluister en waargeneem. Toe trek ek my tekkies aan, klim die berg op en word stil. Tussen die veldblomme en struike, blou lug en wit streep wolke, onder die hange van die Helderberg, daar het ek die onverstaan afgegooi en die groter prentjie beleef. God wat in beheer is, ten spyte van ons deurmekaar wêreld.
Om eerlik te wees, het ek Charlie Kirk nie geken nie. Ek was skaars bewus van sy bestaan. Tog ruk sy dood my. Miskien die manier waarop dit gedoen is. Lafhartig. Miskien die rede. Omdat kwessies aangeraak is waaroor min wou praat. Omdat jongmense opgedaag het, en geluister het…omdat hy Jesus openlik erken het.
Saad wat val, ontkiem. Sy luistergetal vertrippel en sy podcasts word op alle platvorms gedeel. Dit motiveer mense om op te staan vir wat hul glo. Dit laat ander stop en pause…
Vir twee weke lank, skryf ek niks. Tog tel ek teksverse op wat dinge vir my bevestig:
- Wees gereed: “Eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.” 1 Petrus 3:15
- Prioriteite: “…en die wêreld met sy verleidelik dinge (dit wat ons oë sien en begeer, al ons ingesteldheid op besit) gaan verby, maar, wie die wil van God doen, bly ewig lewe. 1 Joh 2:17
- Vernuwing is nodig: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Romeine 12:2
Die vinger wys uiteindelik na myself. Wat hoop ek, wat is vir my belangrik en watter denkpatrone moet ek verander?
Die wêreld is verganklik en die mens bly soekend. Ons raak tegnologies ryk maar verhoudings arm. Ons is omring deur mense, tog bly ons eensaam. Wie is reg en wie is verkeerd? Soms word die lewe bloot te ingewikkeld. Dis dan wanneer ek in die natuur stap om antwoorde te kry.
Ek tel los klippies op en pak dit in my binnekamer uit:
Die natuur gee ritme. Seisoene kom en seisoene gaan. Almal blom nie gelyk nie. Sommige blomme is helder geel, ander is pers of sagte pienk. Ons is nie bedoel om dieselfde te lyk nie. Sommige blom net ‘n oomblik lank. In His time, He makes all things beautiful. Wanneer dit bewolk is, hoor jy die meeste voëltjies sing. In die sonskyn het ons meer water nodig. Blomme en struike vul mekaar aan. Saam word alles deel van God se kunskafee. Soms moet jy ‘n tree terug staan om die groter prentjie raak te sien. Jy hoef nie perfek te wees om te blom nie. Elke dag is dalk nie goed nie, maar daar is iets goeds in elke dag…
Sonder woorde kom ek terug. Tog het my hart vrede gevind. Die God wat sorg vir die mossies en die blomme in die veld is dieselfde God wat sorg vir my en jou.
Paulus het geplant, Apollos het natgemaak, maar dis God wat laat groei. (I Kor 3:5). Dis op Hom wat ons oog gerig moet wees. Dis in Jesus se voetspore wat ons moet loop.
Mag ons hoop so in ons leef dat ons saam met Paulus én ander gelowiges kan getuig: “Want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Filippense 1:20-21.
Ook sý getuigskrif…



