Om sag te kyk

“Hou aan om sag te maak om jou. Dis jou legacy.”

‘n Verjaarsdagboodskap van ‘n vriendin. Dit raak my diep, want soms is dit juis ‘sag maak’, wat jou in konflik bring met ander wat alles in reg of verkeerd boksies wil verdeel. Dit bevestig iets van my roeping en hoekom ek graag stories optel. Want dis eers wanneer ons leer om te luister, dat ons sagter na mekaar kan kyk.

Miskien het my lewensreis met my pa begin. Wat ons op ver paaie laat ry het sodat ons ander plekke kon ontdek. Ander mooi’s kon beleef. Ek het geleer om lief te raak vir die Karoo se sterre, die Bosveld se sonsondergange, die Vrystaat met sy vlaktes, die Weskus se ongereptheid, die Wildtuin met sy wonders, die Kalahari met sy duine, Natal met die Drakensberge, en die Kaap met al sy mooi. Om te reis verbreed jou horisonne en leer jou dat mooi, verskillend kan lyk.

Wanneer jy uiteindelik op verskillende plekke bly, moet jy leer om te groet en aan te pas. Soms werk dit soos ‘n sif: Jy onthou die mooi en laat die sleg deurgly. Want die lewe verander soos seisoene en aanpassing is deel van oorlewing. Dis egter op jou reis dat jy mense ontmoet, juis op die agterpaadjies waar min ooit ry. My pa wou ons graag die land wys en het verskillende roetes voorgestel. In ons onkunde het ons net belang gestel in die kortste roete. Tog het ons plekke besoek wat ons dalk nie meer kan onthou nie, maar ervarings is in ons ingebou. Stories is ingelaai en karakter is gevorm.

Wanneer jy reis, moet jy leer om neer te sit. Jy kan nie swaar dra en geniet nie. Laai in wat nodig is en laai onverstaan af. Psalm 131 word my “go-to” Psalm wanneer ek oorweldig word deur onverstaanbare dinge. “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind, soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind…” Ek hoef nie alles te verstaan of antwoorde op alles te hê nie. Om berge te klim het deel van my eie aflaaiplek geword. Hoe ligter jy pak, hoe makliker klim jy tot bo.

Ek vermy wat vir my sleg is, en soek die mooi. Lees goeie boeke en soek geselskap van opbouende mense. In Paulo Coelho se boek, The Alchemist maak hy die opmerking dat ons dikwels kwaad word wanneer ander mense nie is wat ons wil hê hul moet wees nie. Ons het ‘n goeie idee hoe ander moet leef, maar nie hoe ons self moet leef nie. Volgens hom is een van die voordele van ‘n reisiger, dat jy gedurig vriende maak sonder dat jy te veel tyd saam hoef te spandeer. Dis immers wanneer jy te lank sáám is, dat jy almal om jou wil verander. Eintlik is die geheim die eenvoud daar agter. Wanneer jy besef dat jy verantwoordelik is vir jou eie geluk, kan jy verby ander se foute kyk, en aanbeweeg.

In ‘n onlangse hokkietoernooi was my jongste redelik gefrustreerd met van die ander spelers, tot ek vir haar uitgewys het dat sy nie ander kan verander nie, net haarself. Jy kan aanpas en jou eie tegnieke verbeter maar jy kan nie die lewe vir ander speel nie. Ek kan net gereedskap gee en ‘n voorbeeld vir my kinders stel. Ek kan hul leer om lig te pak maar hulle moet self leer wat om neer te sit en uit te haal. Om lig te loop deur die lewe, is ‘n genade geskenk van bo. Wanneer Jesus ons uitnooi, stel Hy ons gerus dat sy juk sag is, en Sy las lig….

Kyk sag na ander…my legacy. Gebore uit my grootwordwortels, my geloofsankers en my verstaan van God. Om soos Jesus na mense te kyk, my strewe waarmee ek dikwels nog sukkel. Om lig deur die lewe te loop, onverstaan neer te sit, saadjies van hoop te saai en geleenthede raak te sien waar sagtheid brûe kan bou, deel van my bestaan.

Daar is baie plekke wat mooi is en baie kante van ‘n storie. Wanneer jy reis, ontdek jy. Wanneer jy luister, sien jy ander dinge raak.

Om sag te maak om my, was nooit die doel. Tog is ek dankbaar dat my skrywer-vriendin iets daarvan in my kan beleef.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories