
Hoop in ‘n stukkie blou lug
“Dit voel soms asof die Here dit spesiaal vir ons (twee) maak om te sien en te waardeer…” Die woorde van my hardloop vriendin na aanleiding van (nog ) ‘n treffende sonsopkoms. Dit voel so, beaam ek, maar die wonder is dat die Here dit vir almal bied, tog is dit net hulle wat waag om te kyk, wat dit sien.
Ons het die oggend een van my “short-en-sweet” roetes gedoen. Beter gestel, ‘n kort roete met ‘n stewige bult. Die parkie was by die halfpad merk. ‘n Goeie plek om te stop vir asem en vir my hond om bietjie los te hardloop. Ons het omgedraai en die son gesoek. Daar was donker wolke in die lug met geel strale wat moeisaam deurgebreek het. Dan die verrassing: ‘n Dun straaltjie blou lug wat deur ‘n gleufie loer. Treffend mooi. Lig verdring die duisternis. Die donker wolke kon die blou lug nie keer nie, was die stille belofte.
Kort voor lank was die magiese oomblik verby. ‘n Gedagte terug en ‘n kiekie op die kamera vasgevang. Tog het hoop met die stukkie blou lug in ons harte nes gemaak.
“Was daar dan nie 10 wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?” Lukas 17 se verhaal kom in my kop. Waar was die ander wat gesien het, maar nie gekyk het nie. Of hulle wat op ander plekke lig gaan soek, maar steeds nie vind nie.
O Heer my God, as ek in eerbied wonder
en al U werke elke dag aanskou...
“It’s not what you look at that matters, it’s what you see…”
Elke dag ontvang ons soveel… asem in ons longe, nuwe krag, geleenthede, ‘n sonsopkoms, skoenlappers, helder blomme, blou lug…tog raak ons lewens so verstrengel in besig wees en geraas maak dat ons die wonder mis. Jakobus gee raad hoe om ons lewe rondom God te rig: “As iemand van julle swaarkry, moet hy bid, as iemand opgeruimd is, moet hy psalms (lofliedere) sing.” Die woord ‘mindfulness” kry nuwe betekenis. Om bewustelik te leef met ons lief en leed. Om dinge om ons ráák te sien en te waardeer.
Die volgende oggend het my wekker weer vroeg afgegaan, maar my oë was te moeg en my lyf het geprotesteer. Sy genadige hand was steeds oor my. In gebed het ek al my pakkies uitgehaal. Nuwe krag vir ‘n nuwe dag. Lig het my kamer binnegedring want dit kon die strale nie keer nie. Toe het ek iets begryp van die woorde in Handelinge 17:
“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons..”
Ek hoef Hom nie net buite te gaan soek nie, maar om die sonsopkoms te beleef, is soos om poeding vir ontbyt te kry: ‘n bonus! Gelukkig kry die laatslapers steeds vars manna elke dag.
Wat vra Hy van my? Om met dankbaarheid op te staan.
Hy word nie beperk deur my bewegings, of ek sit of staan en of ek binne of buite leef nie. Tog is dit veral daar buite waar my hart spontaan ‘n loflied sing:
Dan moet ek juig, my redder en my God
Hoe groot is U...
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote naam!
As ons nie sing nie, sal die skepping juig. Of ons die sonsopkoms sien of nie, die son steek steeds sy kop bo die wolke uit. Die keuse lê in die opstaan, opkyk en raaksien. Spesiaal gemaak vir elkeen wat bereid is om te kyk. Nie vir ‘n kiekie nie, maar om ons harte met hoop te vul.
Wie weet, dalk was hierdie sonsopkoms tog spesiaal vir ons gemaak. Tussen al die donker wolke was ‘n stukkie blou lug dalk net wat ons nodig gehad het…



