Welkom by die Hoërskool

  • Opgedra aan ons onderwysers, en tong in die kies vir al ons helikopter ouers.

Om ‘n hoërskool-ouer te word, is nogals ‘n aanpassing. Eers is dit die hekke wat soos ‘n fort voel en dan is dit die inligting wat meestal onder die radar deurkom. Per geluk as jy dit raaksien of weet waar om te kyk. Jy voel bloot nie meer in beheer nie en vir die standaard helikopter-ouer, voel dit soos ‘n nagmerrie-vlug.

Welkom by die hoërskool.

Soos die kinders ouer word en veral as jy dogters het, begin jy bietjie asemhaal. Niemand gaan dood nie, take word voltooi en jou kind weet redelik wat aangaan. Jy voel verras as jy per ongeluk op ‘n groepie hoor van ‘n taak, en jou kind non-chalant sê dat sy dit die vorige week al ingehandig het. Jou helikopter bly op gereedheid, maar word nie meer ingespan nie.

Dan op ‘n dag, bevind jy jouself in die personeelkamer, op ‘n uitnodiging. ‘n Onbekende wêreld breek vir jou oop. Onderwysers word mense, tuis in hul habitat. Groepies kuier bymekaar, soort by soort. Die manne daar, die ouer garde hier, drama en musikante bymekaar met die jonges in hul eie kring. Sommige sitplekke, duur gekoop, amper soos in die kerk. ‘n Verskeidenheid bekers staan en wag. Ook hier soek jy versigtig rond. Elkeen het duidelik sy eie baas. Dan begin die formaliteite. Afkondigings, aankondigings en lief en leed. Iemand verjaar en haar lof word besing. ‘n Mooi gebed wat volg. Ek ervaar ‘n positiewe energie. ‘n Omgee-omgewing en my hart voel warm. Ons kinders is in goeie hande.

Sport, kultuur, musiek, akademie. Ek hoor die passie in hul stemme. Harde werk agter die skerms. Soms van vroeg tot laat. Ek sien die werkers op die skoolterrein, blomme word versorg en dinge word in stand gehou.

Met twee kinders op skool en twee reeds op universiteit, kyk ek uit ‘n ander hoek. Die oudste twee se aanpassing was maklik. Taal, kultuur en akademies, maar meer as dit, die verantwoordelikheid om op te daag. Hoërskool is die plek waar kinders leer om self die stokkie te vat en ouers moet leer om te vertrou en te”let go”. Groei-grond vir eendag…

Dit bly ‘n uitdaging om ‘n hoërskool-ouer te wees maar dit raak makliker. Jy word wel gryser en hul slaapkamer bly slordig, maar julle leer watter battles om te fight en wat om te los. Ons hou steeds nie altyd van die fort nie, ook nie van inligting wat traag deur kom nie en daar is verseker dinge wat die skool kan verbeter. Kommunikasie bly ‘n uitdaging en om mekaar se harte te lees, die “missing link”. Dis egter op hierdie platform waar dit nodig is om in ons helikopter te klim vir ‘n ander rede: Om van bo af te kyk en ons seëninge te tel.

Dankbaar vir ‘n goeie skool, vir goeie geleenthede, onderwysers met passie en mense wat omgee. Vir ‘n fort waar ons kinders kan foute maak en daardeur kan groei. Vir ‘n skool waar kinders die fondasie kry om hul vlerke te sprei.

Vir die ouers wil ek sê: Sit gerus julle klippe neer, skink ‘n glasie wyn en stuur ‘n dankgebed na bo. Ons kinders is in goeie hande.

Vir die onderwysers: nog ‘n jaar amper voltooi, saadjies gesaai wat eendag sal groei. Vasbyt en opkyk. Instrumente in Sy hand.

“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het…” Kolossense 3:23

Die helikopter het geland. Cheers op hierdie jaar. Ons almal het die tieners oorleef!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories