
Waarmee is ons besig?
-‘n Gedig, voor ek aanmeld om te sing, voor ons opdaag by die Kerssangdiens, voor ons waag om geskenke te gaan koop en voor ons begin om die ete te beplan. Mag ons net eers stil word en besin.
En voor die kersgety begin,
Word ek stil...
Waarmee is ons besig liewe Heer,
Met vers en klank oor 'n stille nag?
Engele wat sing
Herders wat vertel
Here, maak stil die gejaag.
Laat ons weer die wonder beleef:
'n kind gebore vir 'n wêreld soos die.
Mag ons eie Betlehem-dorpie,
Stil word in die gedruis,
Mag ons die ster raaksien,
Maar nie vergeet.
Mag ons nie terugkeer na ons huise,
Onveranderd, ongeraak.
Mag ons iets beleef,
Van 'n Vader se hart.
Verlore mense word gevind.
Kersfees meer as net vers en klank...



