
Getel
“Mamma, hulle het nie my naam gevra nie”, was haar hartseer antwoord jare gelede toe ek haar na die netbal oefening kom haal het. Ek het ‘n paar oefeninge later my hulp gaan aanbied. Daar was bloot te veel kinders vir die juffrou. Sy was baie dankbaar. Ek het ‘n punt gemaak om elke kind se naam te vra en neer te skryf. Ongeag watter span jy is, almal wil êrens geken word.
Wanneer Jesus die gelykenis vertel van die 99 skape, is dit die een verlore skaap wat die Herder gaan soek. Keiser Augustus hou ‘n volkstelling om sy mag te wys, maar vir die Here is jý in tel.
Op my pad werk toe met Oukersdag, sien ek ‘n vroutjie by die robot wat briefies uitdeel vir werk. Teen die muur sit haar dogtertjie. Ek wonder waar sy vandaan kom en hoe haar kersfees vanaand gaan lyk? My storie en haar storie lyk anders. Om werk toe te ry kry ander betekenis. Ek kla nie vandag nie.
Terwyl ons voorberei vir ons Kersete, druk ‘n jong man op my seun se hart. Hy nooi hom impulsief om te kom saam eet en sonder om te huiwer, stem hy in. Ons vra nie vrae nie, maar verwelkom hom met ope arms.
Terwyl my dogter die tafel dek, onthou ek van die plate blomme in ‘n tuin verder af in die straat. Gaan vra vir die tannie of ons dalk ‘n paar kan kry, stel ek voor. Ek hou van ‘n mooi tafel. “Take as much as you need”, is haar vriendelike antwoord. Ons tafel raak ‘n lushof. Die Gees van kersfees kom soms met blomme.
Ek tel klippies op vir my hartstafel vir Kersfees en die nuwe jaar.
- Elkeen wil getel word
- Die Here sien jou raak
- Die Evangelie is vir almal bedoel
- Wees sensitief vir ander se stories
- Hou plek aan jou tafel
- Saai saadjies in oorvloed
- Wees vrygewig met jou blomme
By die netbal oefening is elke kind se naam neergeskryf en die spanne het floreer. By die kerstafel was daar meer as genoeg kos vir ons gas. Die tannie se blomme het steeds in oorvloed geblom en die Herder het sy verlore skaap gevind. Ek was bevoorreg om op oukersdag te kon werk, want die nood om ons is groot. Êrens was daar ‘n Mamma en haar dogtertjie wat ook getel wil word.
Wanneer ons ander begin raaksien, word ons deel van God se span. Hy het die 99 skape gelos om die een te gaan soek.
Mag Hy ons lei waar om saadjies te saai en wie om uit te nooi. Mag Hy ons oë oopmaak om verder te kyk en ons ore om te hoor.
“Die oes is groot, maar die arbeiders min.” Mattheus 9:37
In Sy koninkryk is elkeen belangrik. Ook jý tel vir Hom.



