2026

En so begin die nuwe jaar…die goue bal wat sy kop uitsteek. Selfs tussen die mis kon die duister hom nie keer… selfs al sien ons nie die pad, kan ons weet, ons God is hier. Die wete is genoeg, die rede vir ons hoop. – Dag 1 se inskrywing

Dag twee en drie begin ook met wolke in die lug. Op beide dae breek die sonlig besonders deur. Ek kyk verstom hoe die helder wit lig op die seewater blink terwyl ek langs die see draf. Dis treffend mooi en ek ervaar opnuut iets van God se lig wat nie gekeer kan word. Ook die wete dat as ons in Sy teenwoordigheid bly, ons in die lig bly. Die Stranddienste se tema-versie van die vakansie-program, kom by my op:

U woord is die lamp wat vir my die weg wys. Die lig op my pad. – Ps 119:105

Jare gelede het ons met die kinders die Westpeak-roete op Helderberg gaan stap. Toe ons al redelik naby die kruin was, het erge mis ons omring. Ons moes besluit, vorentoe tot by die piek, of al die pad terug. Omdat ek die roete goed geken het, en dit nie meer te ver was nie, het ons dit op gewaag. Dit was die moeilike deel van die roete waar jy oor rotse moet klim en klouter sonder ‘n duidelike paadjie. Stapels klippe het min of meer die rigting gewys, maar elkeen moes op ‘n manier sy eie pad vind. Dit was stresvol omdat ‘n mens skaars voor jou kon sien. Boonop was ons al baie hoog en die afgrond onsigbaar naby. Ek onthou hoe ek voor geklim het en my man die agterhoede gedek het met die 4 kinders tussenin. Ek het besef as iets nou sou skeefloop, ons in groot moeilikheid sou wees. Gelukkig het almal ongeskonde bo by die baken uitgekom.

Weens die mis, kon ons geen uitsig bewonder nie en het ons nie lank vertoef nie. Die verligting was groot toe ons begin afwaarts beweeg en die pad al hoe duideliker voor ons geword het. Ek onthou ook die vreemde gevoel toe ons uiteindelik onder die wolk uitbeweeg en helder sonskyn op ons gewag het!

Ons het nou nog diep respek vir die Helderberg as ons van onder af kyk en ‘n wolk oor die kruin sien lê!

Ek het daardie dag ‘n paar ontdekkings gemaak: Dit help as iemand die roete ken. Stapels klippe van vorige stappers kan goeie rigtingwysers wees. Soms moet jy blindelings vertrou en net aanhou beweeg. Nie elke kruin het ‘n uitsig nie, dis dalk bedoel vir ‘n ander dag. Soms breek die son deur die wolke wanneer jy dit die minste verwag.

Terwyl ek later deur die Woord blaai, oor die oggendmis dink en al die paaie wat voorlê, lees ek in Jesaja 43 iets van die Here se beloftes raak. “As jy deur water moet gaan… deur riviere… selfs vuur, is Hy by jou.” Nie net is Hy by ons nie, maar, soos daar verder geskryf staan, het Hy die vermoë om ‘n pad déúr die see of ín die woestyn te maak.

2026 se paaie is onbekend. Dit mag maklik en gelyk wees, maar daar is geen waarborge nie.

Ek tel dus ankerklippies op om my voorteberei vir die jaar wat voorlê:

  • Sy woord is die lamp – ons moet dit lees
  • Die Woord gee lig vir my voete – een tree op ‘n slag
  • Ons kan nie altyd lewensvloede, vure of riviere keer nie, ook nie dat digte mis ons oorval nie – maar Hy waarborg Sy nabyheid
  • Geen duisternis kan die lig uitdoof nie (Johannes 1:5)
  • Dit help as iemand die roete ken – vra hulp
  • Soek stapels klippe op jou pad – dis rigtingwysers van hoop
  • Hy is die weg, die waarheid en die lewe

Die sonsopkoms is elke dag besonders. Tussen die wolke kan ons die mooiste prentjies kry. Klaagliedere 3 se woorde word my ankerklip. Nie as ‘n terugblik nie, maar as ‘n vooruitsig.

Deur die liefde van die Here (sal) ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie. Dit is elke more nuut….om díe rede, bly ek hoop…. selfs al kan ek nie die pad sien nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories