
Inkleurpotlode vir die siel
Waarom kleur jy nie jou prentjie in nie, wou die nuwe graad twee juffrou weet. Hy’t nie ‘n woord gesê nie. Net voor hom uitgekyk. Sy het weer probeer. “Ek is seker jy wil ook ‘n mooi voorblad vir jou boekie hê?” Steeds nie ‘n woord nie. Al die ander kindertjies was ywerig besig met hul prentjies. Sy’t diep asem gehaal en nog een keer probeer:”Hét jy inkleurpotlode?”
Hy het sy koppie heen en weer geskud…
In die stoorkamer het sy ekstra uitdraaikryte gesien en dit vir hom gaan haal. Hy’t dadelik met sy prentjie begin… Een van baie stories wat sy sal onthou.
‘n Rowwe eerste week. Vir al ons werkendes in die huis. Dis diep water swem vir die nuwe juffrou, dis emails en vergaderings en vure doodslaan vir manlief. My studenteseun kom honger by die huis en ek voel bloot nie myself nie. Klein jakkalsies frustreer by die werk en min slaap maak my moeg. Intussen is die kar steeds stukkend. Moet ek oplaai en aflaai, ander planne maak en selfs ubers reel. My ekseemvingers vertel wat ek nie in woorde sê nie. Ek sukkel ook om te gaan hardloop. Eintlik voel ek ook maar soos die seuntjie in die graad 2 klassie. Ek sukkel om my prentjie in te kleur.
Die oggend van my min slaap vat die Bybel App my na Lukas 12. Dit neem my verby die versie van die dag en ontbloot my eerste kommer van die nag:
Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie ‘n stoorkamer of ‘n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie?
As die seuntjie net in die eerste plek gesê het dat hy nie inkleurpotlode het nie, kon hy lankal begin het.
Ek vra myself die vraag af hoekom ek in die week so gesukkel het om my lewensprentjie te kon inkleur. Dalk omdat kommer in my hart kom nesmaak het? In dieselfde gedeelte lees ek dat ons ‘n Vader in die hemel het wat weet wat ons nodig het.
Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Lukas 12:32
“Our emotions and our desires flow from the condition of our heart. We need to train our heart to dwell on Jesus.” Woorde wat my tref.
In die Here se stoorkamer is alles wat ons nodig het om elke dag ons prentjie in te kleur. Al wat Hy vra is om ons hand op te steek, Hom te vertrou en te neem wat Hy gee.
Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed. Johannes 10:10 – Sy belofte!
Ek het die Vrydag moed bymekaar geskraap, ‘n kort entjie gaan hardloop, vars lug ingeasem en my verkyk aan die sonstrale agter die berge…
Sý inkleurpotlode vir my siel.
Die graad 2 juffrou het onverwags ‘n mentor gekry. Nie net het sy die raad ontvang wat sy gesoek het nie, maar is sy toegerus met ekstra boekies en nog inkleurpotlode vir haar klas. Die Here ken sy kinders. Hy weet wat ons nodig het. Soms gebruik hy ander juffrouens om jou inkleurpotlood te wees.



