
Om te oefen
Ek hou daarvan om na die atletiek te gaan kyk. Veral die naellope en middelafstand items. Dis lekker om die inspanning en kompetisie te beleef. Soms kop aan kop eindpogings en ander kere rou talent wat na vore kom. Tog is dit die klein oomblikke tussenin wat my hart die meeste steel. Dinge wat ek wens ek kon vasvang met ‘n kamera se lens. Die sportmansskap na die wedloop, die omhelsing of gelukwensing met die wenner, die kopskud glimlag oomblik wanneer iemand net te goed vir jou was. Opponente wat uiteindelik saam van die baan af stap.
Daar is ook hartseer oomblikke. Die hamstring wat trek en ‘n atleet wat mank tot stilstand kom. Die een wat by die wenstreep inmekaar sak. Die aflosstokkie wat val of die atleet wat oor die laaste hekkie struikel. Kop optel oomblikke.
Ek kyk ook met waardering na die beamptes wat in die hitte staan om dinge vlot te laat loop. Twee keer sien ek hoe dieselfde beampte ‘n atleet optel en na die mediese tent dra. By die wenstreep verkyk ek my aan die beampte wat vir elke atleet wat sy uitvang ‘n hartlike high-five gee. Mooi so, wil ek saam uitroep. Jou beste is goed genoeg! “Turn-up-never-give-up.” – ons skool se slagspreuk.
Terwyl ek van bo af kyk, sien ek ‘n stukkie van die groter prentjie. Die skare op die pawiljoene, die atlete wat deelneem en ander wat wag vir hul beurt, sommige besig om op te warm, ander wat strek na die resies. Ek speel speletjies in my kop en raai voor die tyd wie gaan wen. Keer op keer word ek verras. Dis nie noodwendig die atleet met die duurste skoene wat op die podium beland nie.
Later sien ek hoe my dogter my tussen die skare soek na haar item. Ons oë vang mekaar, ek “thumbs up”, en sien hoe sy glimlag. Dis hoekom ek eintlik hier is. ‘n Voorreg…
Die feit dat ons skool loshande wen, raak minder belangrik. Daar was soveel mooi oomblikke tussenin wat ‘n groter storie vertel. Karakter spreek verder as punte. Opdaag, deelneem, vriendskappe. Die groter wen. Die woorde uit 1 Timoteus 4 herinner my aan dit wat nog belangriker is:
Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. 1 Timoteus 4:8
Die belofte van lewe…wanneer ons te midde van al ons lewensstake en aktiwiteite, kan reg kry om te fokus op ons toewyding aan die Here.
Wanneer ek dink aan die tempo van die sport by die skool, die intensiteit van die oefeninge en die strewe om by uitnemendheid uit te kom, bid ek opnuut vir wysheid vir almal betrokke. Mag ons hard werk maar steeds die vreugde vind. Mag die waarde om ons liggame te oefen en die hoogtes wat ons bereik, nooit te koste wees van ons menswees en Geestelik groei nie. Soos die Amplified vertaling dit stel:
For physical training is of some value but godliness (spiritual training) is of value in everything and in every way, since it holds promise for the present life and for the life to come.
Ek is dankbaar vir ‘n goeie skool wat streef na uitnemendheid, vir kinders wat opdaag en probeer, vir sport wat ons kinders se liggame oefen, hulle van sosiale media en ander versoekings weghou en soveel lewenslesse leer. Maar bo alles dank ek die Here vir lewe, liefde en geleenthede. Ek is dankbaar dat ek van bo af kon kyk en die atletiek kon geniet.
Aan Hom die eer in alles wat ons doen.
Hy, wat soveel verder kyk as ons…



