
Jou besluite maak saak
“Elke dag maak ons besluite. Soms groot, soms klein. Sommige met groot impak, ander met klein. Tog word iemand êrens daardeur geraak. Elke besluit kos dalk nie ander se lewens nie, maar kan iemand se dag maak of breek.”- in my dagboek inskrywing.
In die week van my inskrywing, sterf 12 kinders weens ‘n roekelose bestuurder. Sy besluit om 4 karre verby te steek het ‘n ewigdurige impak op elkeen van daardie families. Een ma verloor twee kinders op dieselfde dag. Ouers is gebroke en ‘n jongman eindig in die hof. Ek sukkel om my gedagtes in woorde te beskryf, maar voel of ek my kinders ekstra styf wil vashou.
By my spreekkamer sien ek ook gevolge. Impulsiewe besluite laat mense verkeerde paaie kies. Pille moet lywe probeer regdokter maar kan nie altyd die hart genees of die gevolge keer nie.
Oor sommige besluite het ons geen beheer nie. Raak ons deel van ander se keuses en moet ons kies om die Here met ons seerkry te vertrou. Hy wat belowe dat Hy alles ten goede kan laat meewerk. Ook is Sy genade groot genoeg. Vir die skewe trap en berouvolle hart wag daar altyd tweede kanse, al moet die spore soms ‘n ompad loop.
Terwyl ons een aand aan tafel praat oor die gebeure van die dag en na mekaar se lief en leed luister, tref dit my hoe die klein besluite in ons alledaagse lewe, ook ‘n impak op mekaar kan hê. Woorde en dade van ander wat seermaak of kan heelmaak. Die tong wat afbreek of herstel. Jou besluit om ‘n hand uit te reik of te los. Op die oog af, gering. Tog die verskil tussen ‘n goeie of slegte dag. Vir ons kinders maar ook vir ons.
Daar is ook besluite wat ons nie neem nie… Om iemand nie te groet nie, nie te glimlag of dankie te sê nie. Die besluit om nie te gaan kuier of bel nie, nie te luister of te hoor nie. Dalk net nie op te daag nie. Ook met gevolge.
Sommige besluite haal koerantopskrifte en lok kommentaar op sosiale platforms uit, ander verdwyn in mense se hartkamers. Sommige oumense kwyn van verlange, êrens word ‘n swangerskap stilweg beëindig.
Groot besluite het dikwels groot gevolge, maar dis die klein besluite wat ons koers bepaal en die lewe vir ander inkleur.
Die taxi ongeluk is meer as ‘n wekroep vir padveiligheid. Dis ‘n herinnering vir elkeen van ons om met verantwoordelikheid te lewe. Om te besef dat elke besluit ‘n ander se lewe direk of indirek kan raak.
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. (Waar jy bestuur, waar jy werk of selfs net inkopies doen, wat jy skryf in jou kommentaar, wat jy spreek oor ander.) Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig, en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.- Kolossense 4:5-6
Mag ons daarom doelgerig en doelbewus lewe. Waaksaam oor wat ons sê, wat ons oor mense spreek, hoe ons bestuur en hoe ons deur die lewe beweeg… because it matters.
Ek haal toe maar die taxi-bestuurder uit my dagboek en plaas myself voor Sy troon…
Help my Here om my lewe vandag so te bestuur dat mense om my, veilig en geliefd sal voel.



