
Een saam
Dit was eers toe ek bietjie rondkrap en uitvra, dat ek dit besef. Haar eensaamheid. Nie net was sy alleen nie, sy was eensaam. Later herkou ek die woorde. Alleen klink na “al een” wat nie altyd beteken dat jy eensaam is nie. Jy kan op jou eie wees en doodgelukkig voel. Ek kan alleen gaan hardloop en my kop skoon maak, selfs alleen gaan fliek en ‘n oomblik agteroorsit. Eensaam is ‘n hartseerder woord. Letterlik is jy saam met ander mense, maar staan jy op jou eie. Dis húlle wat my hart raak.
Sy vertel verder dat sy net elke dag werk toe en terug huis toe ry. Nou twee maande in die Kaap maar haar hart is by haar mense ver weg. Verder is sy bang om selfs net langs die see te gaan stap. In die dag is sy tussen mense, werkpakkie aan. Eensaam bedags, alleen in die aand.
Sy is een van baie. Wat elke dag maskers opsit om te oorleef. Jy hoef immers nie alleen te wees om eensaam te voel nie. Sommige ervaar dit in hul eie huise.
Wat maak ons daarmee?
In my stilwordtyd stop ek by die bekende vers in Johannes 14:
“Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” – Jesus se antwoord.
Almal hunker na geluk en aanvaarding maar wat ons eintlik soek, is lewe in oorvloed. Jesus se pad…
Ons mag alleen in die kerk instap met ons eie uniekheid, denke, gevoelens en probleme, maar wanneer ons die lied, ‘Ons is almal hier tesaam, vergader in Sy naam’ sing, beleef ek iets kosbaar. Wanneer ons die Here sáám begin loof, word ons een in geloof. Die waarde van ‘n geloofsgemeenskap. Dalk die volgende plek om te gaan soek.
Hy ken ons harte en weet wat in ons binneste aangaan. Stort julle hart voor my uit, moedig Hy aan. Wanneer ons op ons alleenste voel, is Hy die een wat by ons is. Soos die ou bekende lied dit stel:
"Ek was eensaam en verlaat,
al was mense rondom my,
daar was niemand wat my verstaan,
maar U woord kom toe helder na my:
Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai voel,
kom na My toe, Ek gee krag...
Die Here nooi ons uit om voortdurend Sy teenwoordigheid te soek, maar Hy verwag ook van ons om ander raak te sien. Om op te let wie alleen staan. Dalk ‘n hand uit te reik of ‘n omgee woord. Hier en daar die maskers saggies te verwyder, alleenheid raak te sien en iemand deel te maak van die kring. Soms kos dit om uit jou gemaksone te beweeg, miskien iemand in jou binnekring te nooi.
Om alleen te wees hoef nie ‘n bedreiging te wees nie. Jesus self het alleentyd gekies en krag gekry in die stilte. Sommige paaie is meer afgesonder en elke seisoen het sy uitdagings. Tog was dit nooit Sy bedoeling dat ons eensaam moet bly nie. Hy stuur mense op ons pad om mekaar se laste ligter te maak.
Dalk is jy die een wat vandag ‘n ander moet raaksien.
Ek het haar aangemoedig om in te skakel by ‘n geloofsgemeenskap, om te waag om langs die see te gaan stap en haar alleentyd sinvol te gebruik. Haar masker het ‘n oomblik afgekom omdat ek ‘n vraag gevra het, haar las was ‘n bietjie ligter en haar glimlag was terug.
Look to the Lord and his strength, seek his face always. – 1 Chronicles 16:11
Sáám word ons een in Hom.



