
Daar waar jy is
Wil jy kinders hê, was my terloopse vraag. Nee, het sy geantwoord, die wêreld is te sleg. Ek het geglimlag en terug geantwoord. Die wêreld was nog altyd sleg…toe deel ek met haar een van my ‘go to versies’.
Psalm 37; Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie….vertrou liewer op die Here en doen die goeie, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here…”
Ek kon nie help om te dink aan die seisoen waar ons nou is en hoe ons daaroor moet dink en handel nie. Die oorlog in die Midde-Ooste met al die vrae en onsekerhede. Die magsspel van mense wat deur die eeue herhaal. Net ander lande en mense wat betrokke is. Die olieprys wat styg. Onskuldiges wat sterf.
In ons kerk se preekreeks, moet ons hierdie week die gedeelte van Lukas 10 bestudeer, waar Jesus 70 van sy volgelinge soos lammers tussen wolwe uitstuur. Hy hou ons nie op die weiveld nie want die oes is groot. Hy gee wenke om lig te loop, hy waarsku oor teespoed maar bemagtig hulle ook. Tog eindig Hy by die boodskap dat hul te midde van alles veral bly moet wees omdat hul name in die hemel opgeskryf is. The bigger picture.
Wanneer my oudste hard is op haarself as haar kindertjies in die klas sukkel om konsepte te begryp, herinner ek haar ook aan die groter prentjie. Ons is net instrumente. Al wat die Here van ons verwag is om sy kanaal te wees. Saadjies te saai, te help waar ons kan, Sy voete en hande te wees, die broodjies in ons hand by Sy voete neer te sit. Die groot taak vir Hom gee. Dis Hy wat wonderwerke doen.
Hy verwag nie van ons om die wêreld te verander nie, maar Hy vra dat ons ‘n verskil maak waar ons beweeg. Ons was nog nooit gemaak om al die probleme te kan oplos nie, tog maak die media ons deel van soveel meer. Dit bring die oorlog in ons huise en daarmee saam verdubbel ons angs en kommer. Dit vat ons oog weg van dit wat om ons gebeur en plaas ons in plekke waaroor ons geen beheer het nie. Ons angs raak groter en ons laste te veel.
Maak leeg die tasse, nooi Jesus ons, vat net wat nodig is vir die reis. Doen wat jy kan waar jy beweeg. As jy kinders het, maak hulle mooi groot. Bemagtig hulle om deel van oplossings te wees maar leer hul ook om verder te kyk. Die sigbare dinge is immers tydelik, die onsigbares is ewig.
Terwyl hulle in ballingskap was, het die profeet die volk bemoedig en aangemoedig om te leef daar waar hul was.
Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet van die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring… Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. Jeremia 29: 5-7
Jesus het self gebid dat ons nie uit die (slegte) wêreld weggeneem moet word nie, maar dat die Vader ons van die Bose sal bewaar.(Johannes 17:15) Hy herinner ons om moed te hou en vrede in Hom te vind met die belofte : Ek het die wêreld reeds oorwin. (Johannes 16).
Bevorder die belange van die plek waar jy is…uiteindelik die groter plan. Woon en werk, draf of stap, beweeg rustig voort, ons God is (steeds) in beheer.



