
Wat AI nie weet nie
Hy het vir AI gevra om ‘n prent te skep van die huidige wêreld. Die beeld was ontstellend treffend. ‘n Oorlogzone met ‘n wêreldstad in die agtergrond en ‘n angsbevange kind op die voorgrond. AI se gewaarwording….
Luister ons na die nuus, hou almal asem op. Hoe lank nog voor die petrolprys verder styg?
In Europa wag mense gestrand op lughawens. Vlugte is vertraag, sommige indirek weens die oorlog, ander deur die weer. Iemand wonder bekommerd of daar nog sneeu in Frankryk gaan wees vir sy ski-vakansie. Die gewone man op straat wonder hoe hy sy rekeninge gaan betaal. Die karwag hoop bloot vir ‘n beter dag. Die hoek waaruit jy kyk, bepaal waaroor jy kommer.
By my eie huis is die uberman 10 minute vroeg. Hy vleg deur die verkeer en laai my naby die deur af. Ek verkyk my aan die bedrywighede by die lughawe. Dis nie my gereelde uithangplek nie maar ek voel dankbaar om die toernooi te kan bywoon al is my bestemming geen eksotiese plek nie. Êrens woed ‘n oorlog. ‘n Uberman ry verder. Voor my trippel ‘n ma gespanne. ‘n Besigheidsman praat op sy foon. Almal reisigers êrens heen oppad. ‘n Voorreg as jy vorentoe kan beweeg te midde van al die chaos. ‘n Bestemming kom met ‘n verwagting, tog is dit die reis self wat dikwels die grootste impak op ons lewens maak.
Jesus beland self op hierdie reis. Hy sien die honger en dors wat ander nie sien nie. Dan maak Hy die uitnodiging: Almal wat dors het kom na My en drink….
Die hokkiefees bring ook ‘n verwagting. Daar is ‘n feestelike atmosfeer, lekker musiek en heerlike kos. Tog ervaar die kinders toenemend die druk van presteer. Jy is goed genoeg, wil ek vir elkeen fluister. Glo in jouself. Ons ma’s bring steristampies maar dis die sagte drukkie wat eintlik saak maak. Dit wat AI mis.
Almal wat dors het, kom na My… Jesus weet wat ons nodig het.
But you, Lord, are a shield around me, my glory, the One who lifts my head high. Psalm 3:3
Die dag se vers raak my gebed vir my kind. Om haar hart te beskerm en haar hoop op Hom te rig.
Die wêreld vat en vernietig. Dit breek af en steel geluk. Die sterkes bou hul eie koninkryk en die armes raak armer.
Jesus bied ‘n ander antwoord. Hy les jou dors, versadig jou liggaam en bou op. Hy gee nuwe krag. Dan gebeur die wonder. Tyd saam met Hom, les nie net jou dors nie, maar laat strome lewende water uit jou binneste vloei. Ook vir ander rondom jou.
Buite woed ‘n oorlog. Ons is by ‘n hokkiefees. In die oorlog skuil onskuldige mense, by die fees is daar kinders wat net wil speel.
Mag ons te midde van alles wat om ons gebeur, die groter prentjie onthou. Mag ons keer dat AI se beeld ons so oorweldig dat ons die lewende water mis.
Jesus het uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.'” Johannes 7
AI teken net wat hy sien.
Die oorlog woed steeds, die petrolprys bly styg. Iemand gaan die hokkietoernooi wen, ander gaan verloor. Die realiteit om ons. Kan ons waag om ‘n ander prentjie te teken?
Kom na my…roep Jesus uit, waag om weer te glo…
“Ons te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie…”
“…as jy maar op hierdie dag die dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg.” Jesus op Palmsondag
Daar is baie dinge wat AI nie weet nie….



