
Sy innige liefde
In die vliegtuig was dit donker. Ek het buitentoe gekyk en gesien hoe die liggies al nader kom. ‘n Kronkelende verligte pad het die hoofweg uitgestippel. Stil en rustig. So anders van ver af. Die woorde van Bette Midler se lied het in my kop gekom…From a distance God is watching us. Ek het gedink aan my vorige skryfstuk, wat AI nie kan sien nie, en gewonder hoe God se prentjie nou sou lyk. Dalk ‘n wêreld met ‘n kruis daaroor…
Die woorde in Johannes 13 het my opgeval.
“Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad!”
Ek kon nie help om te dink aan ons huidige wêreldleiers nie. Hoeveel van hulle sou kon getuig van ‘n innige liefde selfs net vir hul mense? Eerder ‘n selfgerigte strewe na vooruitgang, ten koste van ander.
Op die grond lyk ons wêreld besig en deurmekaar. Van ‘n afstand dalk ook so, maar tog ‘n bietjie anders. Raak ons mensgemaakte geboue klein en nietig. Ons wapens gaan verlore tussen die hemelruim. Die mensekinders lyk skielik maar gering. In Psalm 8 verwoord Dawid iets daarvan wanneer hy uitroep: “Wat is die mens dan dat U oor hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”Vir Dawid is dit ‘n vraag uit verwondering. Vir ander bly dit net ‘n vraagstuk. Die hartseer is dat baie mense slegs die ‘from a distance God’, ontdek maar die Immanuel mis. God met ons. Ín ons wêreld…
Tussen die onverstaan van dinge is daar steeds ‘n groter prentjie, maar ook die versekering dat ons nie alleen stap nie.
Op Goeie Vrydag is dit Sy innige liefde wat die keerpunt bring. Hy wat ons tot die uiterste liefgehad het.
Ook vir jou.
Dalk is dit al wat ons vandag moet onthou.



