
Kom kyk
Kom kyk en sien, Hy is nie hier.
Ons het vroeg opgestaan om teen die heuwel uit te loop. Dit was Paassondag. Geleidelik het die oggend ligter geraak. Van bo af was die uitsig mooi en die koffie was goed.
Kom kyk, is ons weer uitgenooi. In die verte het die dag begin breek. Wolke het die sonsopkoms verberg. Tog kon die wolke die lig nie keer.
Maria het in die graf geloer. Sy het gekyk, maar nie verstaan. Waarheen het hul Hom tog geneem?
Af teen die berg het die paadjie gekronkel. Sommer vinnig was ons weer onder. Helder pienk proteas het ons begroet. Die eerstes na die brand. Nuwe lewe.
Die linne doeke was netjies opgerol. Kom kyk en sien.
Buite die graf het sy geween. Gekyk, gesien maar steeds het sy dit nie verstaan nie.
Jy kan opklim teen die berg of dit selfs waag om in die kerk te gaan sit. Jy kan die boodskap hoor en die woorde lees maar steeds die wonder mis.
Maria, het Hy haar op haar naam genoem.
Wolke kon die son nie keer.
Sy’t opgewonde terug gehardloop en gaan getuig.
Moenie uitmis by die graf. Moenie stilstaan in die tuin, of onveranderd verder loop.
Hy’t waarlik opgestaan. Kom kyk en glo…
Hy roep ook jou op die naam…
.



