
As die lewe jou oorweldig
“Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?”
Wanneer Simon Petrus aankondig dat hy vis gaan vang, kom die ander saam. Was hul honger, verveeld of net so oorweldig deur die gebeure van die vorige dae? Jesus se kruisiging, Sy dood, toe die opstanding en dan die onsekerheid, wat nou? Petrus benodig sy berg, die viswaters. Dalk fisies maar ook emosioneel. Honger vir kos en iets meer.
By my spreekkamer ken ek die vrou wat by my instap goed. Sy is ‘n sterk mens. Tog ervaar ek vandag iets weerloos agter haar glimlag. Die kraam was nie maklik nie. Nuwe baba by die huis en dinge wat net nie wil vlot nie. Ek trek die storie bietjie uit en lees tussen die lyne wat sy nie in woorde vertel nie. Dit maak my hartseer kwaad wanneer ek beleef hoe instansies mense in die steek laat en hul weerloos maak.
“Voel jy ‘n bietjie oorweldig?” vra ek direk. Die masker sak en die nuwe mamma bars in trane uit…
Ook die nuwe juffrou voel opnuut oorweldig. Departementele vereistes sonder duidelike riglyne. ‘Hou jou oog op die bal’, is my raad aan haar. Jy is eerste daar vir die kinders.
By my eie werk, waar jakkalsies ook gedurig aan die wingerd wil eet, moet ek my telkemale herinner hoekom ek daar is. Om ‘n verskil te maak aan hulle wat my pad kruis. Dalk met antwoorde of soms net deur te luister en gerus te stel. Ons almal raak met tye oorweldig. Met ons werk, dinge by die huis of bloot net deur alles wat rondom ons gebeur. Soms te veel balle om in die lug te hou.
Jesus daag by die strand op waar die dissipels oorweldig voel. Hy sien hul honger raak. Deel nie preke uit nie maar gee praktiese raad. “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot….”. Wanneer hulle oorlaai word deur die vis in die net, besef hul eers wie dit is. Op die strand is Jesus besig met ‘n vuurtjie. Met ‘n vissie en brood.
Hy is daar waar ons oorweldig voel. Rustig in beheer en tog neem hy nie ons werk oor nie. Hy stuur ons in die regte rigting. Gee nuwe krag en kry ons fokus reg. “Bring van die visse wat jul nou net gevang het.”
Ek gee praktiese raad aan die oorweldige mamma, laat haar trane afdroog en bemoedig haar. Bonsballe kan val. Die huis sal weer netjies word. Dis die glasballe wat ons in die lug moet hou.
Jesus vat ons nie altyd weg uit ons situasie nie, maar bring kalmte in die storm. Hy ontmoet ons waar ons is en weet wat ons nodig het.
“Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis.” Johannes 20:11



