
When the music fades…
“When the music fades, all is stripped away…”
Die wind waai woes en dis grys buite. Reën is oppad. Met die atlete op die pad en al die toksakke gelaai is my skof afgehandel. Ek gaan haal my hond en waag die onderste bergpaadjie. In die verte, tussen die wolke, raak dit oranje-geel. Dis mooi. Die dag is oppad. Dis lewe.
Ek dink aan my kind se trane gisteraand. Die wedstryd wat hul verloor het en die afrigter se teleurstelling. Tussen die pienk proteas sien ek iets van Matteus 6 se boodskap. ‘Is die lewe nie meer werd as al hierdie dinge nie?’
Ek stap verder. My hond is uitgelate van vreugde. Ons bereik die bruggie waar die riviertjie vrolik vloei. Tussen die groen berge is die lug onweer blou. My hart sing saam. Dit begin liggies reën maar my baadjie keer die nat van my lyf af en my hoed hou die water uit my gesig. “No pain, no gain,” dink ek terwyl ek lag, “even when it rains…” Dis lekker buite en só die moeite werd.
“And I simply come, longing just to bring something that’s of worth that will bless Your heart.”
Ek stop vir nog ‘n foto en sing ‘n halleluja. Soms moet ‘n mens waag om te dans in die reën. Ek dink aan die lewe en al die bagasie wat ons ronddra. Hoe nodig dit is om balans in te werk. Tussen hard werk en fokus, nie in die proses die bal te mis nie. Die woorde in Galasiërs 5 was my stiltetyd-kos van die week. Dit gee raad hoe om ons ritme te hou.
Aangesien ons deur die Gees leef,
Laat ons ook met die Gees in pas bly
Om in pas te bly met iemand moet jy saam met hom loop. Die 1983-vertaling stel dit ‘n bietjie anders. “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” Ons kan dit nie op ons eie regkry nie.
“I’ll bring you more than a song for a song in itself is not what You have required.”
Dalk is dit wat die afrigter ook wou hê. Meer as opdaag, om met hart en siel te speel. Dit geld vir alles wat ons doen. Of ons sing in die kerk, help by die huis of opdaag by die werk. As ons kan reg kry om in pas te bly met die Gees in alles wat ons doen, verdwyn vrees en “self-doubt”. Raak ons gesindheid anders. Minder ek, meer Hy. Die uitdaging vir ‘n afrigter is hoe om vrees te laat verdwyn en potensiaal te laat groei.
“You search much deeper within through the way things appear. You’re looking into my heart…”
Dis wanneer ek buite in die natuur loop, dat die geraas in my binneste bedaar. Ek word stil in Sy teenwoordigheid en voel of ek meer in pas kom met Sy Gees. Hy sorg vir die blomme en die voëls. Stuur die reën en laat die son opkom. Hy vat die verloor weg en verander dit in ‘n wen. “Ek wil vir julle die lewe gee, en dit in oorvloed”, fluister Hy in die son se opkoms, die wind wat waai en die reëndruppels wat op my val.
“I’m coming back to the heart of worship and it’s all about You.”
Ons mag fokus, soms teleurgestel wees. Ons mag trane stort en soms harde woorde praat. Die uitdaging is om by die kern te kom.
"Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing." 2 Timoteus 1:7
When the music fades…and all is stripped away. Wanneer dinge nie uitwerk nie, ons geweeg en te lig gevind word of ons inspanning bloot nie goed genoeg voel nie, word ons herinner aan dit wat regtig belangrik is.
“It’s all about you, Jesus.”
Ons mag volheid hardloop. Ons mag val, opstaan en weer probeer. As ons in pas bly met die Gees, kan ons die storms trotseer. Selfs dans in die reën. Speel jou hart uit, my kind, wil ek uitroep in die stormwind. Leef in pas met die Gees wat in jou is. Vir Hom is jy altyd goed genoeg.
Daar is vrede in my hart.
Ek laai my hond in die kar, stop by ouma en oupa vir ‘n koffietjie, ‘n bonus, en ry terug huis. Dan die onverwagse seëning. Ná die proteas, sonsopkoms, blou lug en groen berge. ‘n Reenboog oor die see..prentjiemooi, met die belofte: Ek sorg vir jou.
Even when the music fades….





