Jesus se buurt

Hy het weer ‘n prentjie met AI probeer skep. Hoe sou die wêreld lyk as Jesus hier was? Vir meer as ‘n uur het hy die vraag op verskillende maniere probeer vra. AI kon nie help nie. Uit desperaatheid probeer Dominee Deon toe ‘n ander hoek. Hoe sou die wêreld lyk as daar liefde was? Die uitkoms het verstom. Dieselfde oorlogprentjie van vroeër, nie groen gras of blomme nie, maar van Jesus wat by die verwese kind sit, in dieselfde stukkende wêreld, haar vashou en troos.

“Want so lief het God die wêreld liefgehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Johannes 3:16 (2020)

Jesus in ons prentjie. Jesus in die alledaagse.

Die tema van die preek was, hoe lyk Jesus se buurt? Dalk soek ons Hom net in die kerk of die groot oomblikke. Tog is dit in die tussenin oomblikke waar ons Hom dalk die meeste mag vind. As ons waag om fyner te kyk.

Wanneer ek die Twee Oseane wedloop na jare weer aanpak, is dit veral die mense langs die pad, wat dit besonders maak. Amper meer as die mooi omgewing. Vreemdes moedig jou aan, groepe maak musiek, ‘n kind ‘high five’ jou, ‘n meisie hou ‘n plakkat vas van aanhou-woorde. Kort-kort roep iemand jou naam, wat op jou nommer staan, uit. Dis ‘magic’ oomblikke wat jy eintlik nie kan beskryf nie. Die tussenin oomblikke tussen begin en klaarmaak. Dis die reis wat die wedloop besonders maak, meer as die medalje aan die einde.

Op die roete is elkeen besig met sy eie stryd. ‘n Konstante gestoei tussen vasbyt en aanhou. Die opdraendes is lank en aanhoudend. Ek speel speletjies met my eie kop en kry mini bakens. Tot by die groot boom, tot by die rooi gazebo, hardloop 3 lamppale, stap twee. Dan is ons eindelik by die afdraende. ‘n Jong man vang my oog. Hy klap sy hande, swaai sy arms en lag kort-kort uitbundig. Effens vreemd. Ons pad kruis weer en hy doen dieselfde. Terwyl hy vrolik voor my inswaai, sien ek op die agterkant van sy hempie ‘n “disabled” embleem. Ek bewonder die persoon wat hom ingeskryf het en het waardering vir die organiseerders van die wedloop. Ek kan nie help om te wonder of ons nie soms meer uitmis op die lewe as hy nie. Sy vreugde is uitbundig, veral tydens die afdraendes. Ons ander is stil gefokus.

Soms raak ons net so ernstig oor die lewe dat selfs die afdraendes ‘n stryd bly. Ons raak verstrengel in ons sorge en kommer en wonder wanhopig wanneer die Here ons wêreld gaan regruk.

Wanneer Jesus die laaste keer aan sy dissipels verskyn, wil hulle ook weet of dit nou die tyd is dat Hy sy koninkryk gaan oprig? Hy verplaas die vraag met ‘n antwoord in ‘n ander rigting. Die tyd en geleentheid is nie vir ons om te ken of te weet nie, maar…ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom. Daar waar ons beweeg, moet ons sy getuies wees. In die wêreld, op die wedloop, in die opdraendes maar ook die afdraendes. Binne en buite die oorlog. In die straat, op die N2, by ons werk, in ons huise. Daar.

Hoe lyk die wêreld met Jesus in dit? “Waar daar liefde is en deernis”, daar sal ons Hom vind. By die gestremde man wat lag as die afdraende begin. By die mense wat langs die pad staan en ander aanmoedig. By die een wat troos en skerwe optel. Op die ongewone plekke waar ons Hom dalk die minste verwag.

Hy vra van ons om die lig vir die wêreld te wees.

Jesus se buurt.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories