Stil Saterdag

Ek het vroeg gaan hardloop. Dit was nog donker. Van agter af het ek die man sien stap. Hy het onrustig omgekyk. Ek het gewonder of dit die lig of hygende asems was wat hom die meeste gepla het. Ek het vriendelik gegroet en hy’t opgemerk hoe ons hom laat skrik het. Dis vir die persoon wat jy nie kan sien nie, waarvoor jy eerder moet skrik, het ek gedink en rustig verder gehardloop.

By die natuurpaadjie het ek ‘n oomblik gehuiwer. Dit was donkerder as gewoonlik en ek was nie lus vir val nie. My hond het na links gebeur. Sy het die pad goed geken. Die stukkie in die roete waar sy vry kan hardloop. Ek het ingegee en haar losgemaak. My liggie het die paadjie goed genoeg verlig en die maan het ook sy kant gebring. Ek kon nie my hond sien nie maar het haar gehoor soos sy langs die paadjie in die veld oor grasse spring. Kort kort het sy vir my gewag. Ek het besef dat sy my beter kon sien as ek vir haar. Mag ons ook kies om naby die lig te bly.

Dis Stil Saterdag, het ek besef. Die kruisiging het regtig gebeur.

By die teerpad het ek my hond weer vasgemaak. In die verte het die oranje lig verskyn. Die dagbreek amper hier. My pad het oor die rivier gelei na die see. Die helder maan se bal het in die water weerkaats. Mooi. By die riete het voëltjies ontwaak. Stil Saterdag het vreedsaam begin. My longe vol suurstof en my bene wat beweeg. Hoop, die groot woord wat die dag uitspel. Altyd hoop, want die Lig was oppad.

Op die strand het ‘n helder prentjie my begroet. Die dag het begin.Pienk wolke het aan die ander kant weerkaats. Sagte druppels het onverwags begin val. Strome van seën.

Stil Saterdag met ‘n belofte. More is dit Sondag. Duisternis kon die lig nie keer nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap