‘n Biesiekind vir ‘n ma

Daar is min dinge wat my hart so raak as die hartseer oë van ‘n vrou wat smag na ‘n kind. Wat moed bymekaarskraap opdaag vir nog ‘n ondersoek. Weer en weer probeer.

Soms maak die lewe nie altyd sin nie. Is daar nie altyd antwoorde op al die vrae nie.

Die wat smag, kry nie, ander aanvaar kinders kry asvanselfsprekend en met die wat nie wil nie, gebeur dit ongevraagd. Here, pleit ek soms sag. Sien tog raak.

Die ander stiefkind van rou is die ma wat haar ongebore kind verloor. Want die lewe gaan voort en sonder ‘n graf is daar niks om te wys. Nie eers ‘n merkie op jou lyf. Stilte in die huis. Want miskrame is algemeen, troos ons gou.

Dan kom moedersdag en my beker loop oor. Vier lyfies uit my skoot gebore. Genade onverdiend. Ander sug en steek hul hartseer weg agter ‘n masker gesig.

Hoe maak jy ‘n moedersdag kaartjie, wil my juffrou dogter weet, as almal nie meer mammas het nie? Jy gee dit vir die tannie of ouma wat die naaste aan ‘n mamma voel, is my raad aan haar vir die klas. Liefde en sorg kom soms deur ‘n ander deur.

Toe lees ek van Sifra en Pua terwyl ek voorberei vir die Sondag se diens. Twee dapper Hebreeuse vroedvroue wie se name in die Bybel opgeteken word. Dis hulle wat die opdrag van die Egiptiese koning kry om alle pasgebore seuntjies dood te maak. ‘n Skrikwekkende opdrag. Dan lees ons wat hul reaksie was:

Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. (Eksodus 1:17)

Wanneer die koning se plan nie werk nie beveel hy sy volk om die pasgebore seuntjies in die Nyl te gooi. Dis in hierdie wrede tyd wat ons ‘n ander desperate mamma ontmoet. Wat haar seuntjie so lank moontlik wegsteek voor sy hom uiteindelik in ‘n biesiemandjie tussen die riete langs die Nyl gaan versteek, sonder om te weet wat die uitkoms sou wees. Ons ken die verhaal van Moses. Van sy sussie wat op ‘n afstand waak en hoe die Here uiteindelik die dogter van die farao gebruik om hom te red en as haar eie seun aan te neem.

Tussen die vroedvroue, die desperate ma, ‘n dapper sussie en ‘n onverwante prinses sien ons almal iets van ‘n ma se omgeehart. Daar is dalk nie pleisters vir die kinderlose teleurstelling of die verlies van ‘n ongebore kind nie, maar die wonder is dat jy nie ‘n naelstring nodig het om liefde na ander te leef nie.

My gebed op hierdie moedersdag is dat elke kind vandag ‘n ma in iemand sal ontdek en dat elke onvervulde moederskoot haar biesiemandjie kind êrens sal vind.

Here, seën vandag die tannies en oumas in ons lewe.  Ook die juffrou in die klas en die vroedvrou by die hospitaal. Dankie vir liefde en omgeeharte. Vir mammas wat vroeg opstaan en hard werk. Wie se biesiemandjie dalk trane en gebede is. Wat ook haar kind toevertrou aan U genade.

Biesiekinders en biesiemammas. Almal deel van U groter plan.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap