Die see en God wat voorsien

“Elke dag is dalk nie goed nie, maar daar is iets goeds in elke dag”. Net so voel elke preek nie altyd ‘goed’ nie, maar is daar iets goeds in elke diens. Soms is dit ‘n sinnetjie wat jy moet hoor of ‘n vers wat jy onverwags lees. Dis deel van die redes hoekom ek graag kerk toe gaan. Buiten dat jy jou vir ‘n uur losmaak van tegnologie, word jy gedwing om tot stilstand te kom. Die geheim is om met ‘n oop gemoed te kom en toe te laat dat die Gees beweeg.

Met ons pinksterreeks vorm die see die kern waar rondom die boodskap draai. Plek-plek voel dit of die agtergrond lank raak en my gedagtes begin afdwaal. Ek troos my daaraan dat iemand eendag genoem het dat die Here ook by daardie wegdwaal gedagtes wil wees. Hy ken immers ons harte en wil deel word van elke kamer in jou huis, nie net die mooi vertrek nie. Sagkuns neem Hy dan my hand, en lei my terug sodat ek steeds ‘n boodskap kry.

Ek som die kerngedagtes van die reeks in my eie woorde op:

  • Die week begin met Genesis, die skeppingsverhaal. Die aarde woes en leeg, met donkerte oor die oerwater. “Die Gees van God het oor die water gesweef en God het gesê, laat daar lig wees…” Jare later staan ruimtevaarders in verwondering op ‘n afstand en kyk terwyl hul die skeppingsverhaal lees. Ons word herinner aan God se grootheid. Die see en God wat skep.
  • Dan lees ons hoe die Israeliete uit Egipte trek, net om vasgevang te word in die woestyn met ‘n watermassa voor hulle en die Egiptenare agter hul. Ons ontdek die God van wonderwerke wat ‘n pad maak deur die see en word indirek gekonfronteer met die dinge in ons eie lewe wat ons ook vasgekeer laat voel. Ons dien ‘n God wat paaie kan maak. Deur woestyne en selfs deur ‘n see.
  • Vir Jona raak die see sy ontvlugting. Hy hardloop weg van sy roeping maar ook daar vind die Here hom. Is Sy genade groot genoeg sodat ons ook op ons afdraaipaadjies, Sy roepstem kan hoor.
  • Op dag 4 probeer die dissipels tevergeefs om vis te vang. Die hele nag lank. Dan kom Jesus op die toneel. Hy moedig hul aan om weer te probeer: “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Ons dien ‘n God wat ons behoeftes ken maar soms probeer ons so hard om alles self te doen. Dis Hy wat voorsien.
  • Die Woensdagaand van die Pinksterweek, bevind Paulus homself te midde van ‘n hewige storm op die see. “Vir baie dae het nie die son of sterre geskyn nie, en die storm het so hewig gebly dat alle hoop om gered te word, hulle ontneem is.” Dan kry Paulus die belofte dat almal gered sal word. Hy vertrou op Sy God en deel dit met die bemanning. Sy woorde bring kalmte en orde in die storm. Die gedeelte herinner ons aan God se beloftes waarop ons in enige lewensstorm kan staatmaak.

Ek delf in die skrif en gaan soek opnuut God se beloftes. Dis ‘n moeilike week vir my. My hart is op sy brooste wanneer dinge rondom jou kind gebeur. Ek stap kilometers terug in my gedagtes na haar eerste operasie. Ses weke oud. Ek onthou hoe ek op die brandtrappe van die hospitaal gaan sit en huil het… Dis sewentien jaar later. Vandag het die brandtrappe ‘n kerkbank geword waar my gedagtes kort-kort heen wegdwaal. Terwyl die storms buite woed word ek in Paulus se boot herinner aan Sy beloftes en dit raak mý kalmte:

Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie….

(Dan die belofte)

Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge…

Die pinksterreeks het ons oor baie oseane laat reis. Hier en daar het my gedagtes koers verloor maar ek het altyd weer die rigting gevind. God se almag ken geen perke. Hy bly getrou en maak paaie deur woestyne.

Die skandering het stabiel gebly.

Die boodskap was goed. Tussen die branders het ek God se stem gehoor.

He restored my soul.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap