
‘n Leë bed
“My bed is leeg en my skoene is vol”, was die ou man se antwoord op die vraag hoe dit gaan.
Op pad werk toe dink ek verder oor hierdie mooi antwoord. My bed is ook leeg en my skoene vol. Boonop ry ek in ‘n kar na ‘n werk. Ek het kos in my maag en die kinders is gesond.
Daar is baie ander dinge wat my angstig en bekommerd maak. Tog hoef dit nie te keer dat ek dankbaar kan leef nie.
Say it loud, say it clear
You can listen as well as you hear
Because it's too late when we die
To admit we don't see eye to eye
Die woorde van die lied, The living years, deur Mike and the Mechanics, tref my die volgende Sondag opnuut toe ‘n groepie dit in die kerk sing. Ons hou nagmaal saam met ons tieners en die tema is konflik in gesinne. Die lied spreek baie kwessies aan, maar dit herinner my aan wat ek nou het. The living years. Ek voel ryk met my dogters wat om my sit. Die hier en nou. Say it loud, sing die lied, say it now!
By die spreekkamer vra ek vir die man met die dowwe oë uit oor sy lewe. Werk toe en terug huis toe, is sy antwoord. Waarvan hou jy, probeer ek verder. Ek maak uiteindelik iets in hom wakker. “Ek hou van buite wees, ek is eintlik ‘n plaas man.” Tussen die stad en korporatiewe eise het die man ‘n stukkie van sy siel verloor. Ek moedig hom aan om “buite wees” in sy padkaart in te vleg. Dis moontlik, maar kos dalk bietjie moeite.
“Its to late when we die” – vir baie dinge: om reg te maak, vrede te maak, om buite te kom, voluit te lewe. Ons leef nou. Dis die tyd waar ons die beste moet maak van dit wat ons het. Nie gister nie, nie môre nie, vandag,
Die lied is geskryf vir generasies wat mekaar mis. ‘n Oupa wat sterf en nooit sy kleinkind ontmoet nie. Verlore jare tussenin van ‘n pa en seun wat mekaar nie kon vind nie.
I know that I'm a prisoner to all my father held so dear
I know that I'm a hostage, to all his hopes and fears
I just wish I could have told him in the living years
Ons hoef nie ‘n gevangene van die verlede te wees nie maar mag ook nie ons kinders slagoffers maak van ons vrese nie. Ons hoef nie oor alles te baklei of saam te stem nie. Kies jou battles, sê ek dikwels. We may agree to disagree.
So we open up a quarrel
Between the present and the past
We only sacrifice the future
It's the bitterness that last
Die lied begin by die feit dat elke generasie die vorige een blameer vir dinge wat verkeerd loop. Ons almal sit met stories maar ons sukkel om mekaar te hoor.
Say it loud, say it clear. You can listen as well as you hear.
Uiteindelik bring die woorde ons terug na vandag. Psalm 90 se gebed: Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Kolossense 4 kleur dit verder in: Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig…
It's to late when we die
‘n Goeie dag begin met die regte gesindheid. Om waardering te hê as jou bed leeg is en jou skoene vol. Om jou geliefdes sagter te hanteer. Om tyd te maak vir mekaar.
Say it in the living years.
Say it loud.



