‘n Pienk rokkie

Die pienk rokkie het my oog gevang. ‘n Dogtertjie op ‘n swaai… Tog was dit nie die pienk rokkie wat my aandag getrek het nie. Dit was haar strak gesiggie. ‘n Kind wat net sit-leun op ‘n swaai.

Die agtergrond was ‘n speelpark wat in ‘n tydelike vlugtelingskamp omskep is. Die opskrif op die berig: onthou hierdie kind.

Almal het êrens ‘n storie. Die meeste vlugtelinge het stories wat amper ondenkbaar is. Dikwels is dit ‘n desperate skuif, met die hoop of verwagting van ‘n beter toekoms. Selfs onder die beste omstandighede, is dit nie maklik om te skuif nie. Is daar altyd iets wat jy agter los en nuwe dinge om by aan te pas. Dis ‘n dapper besluit as jy boonop ‘n gesin het wat op jou staatmaak. Hoe maak jy dan as jou nuwe wortels met geweld uitgetrek word en alle standvastigheid oornag verdwyn?

Terwyl dit buite reën sit ek snoesig in my huis. Ek lees hoe mense hul besittings toedraai en beskerm terwyl hul in die koue wag vir busse om hul terug te neem. Sommige het alles verloor.

Is ons nie amal maar êrens vreemdelinge nie?

Ver van hier daag ons sokkerspan op. Ook hulle ervaar politieke druk van alle kante af. Van hul eie ondersteuners, van ander Afrika-lande, van Amerikaners, die media en kommentators. Nie goed genoeg, sing die koor. Tog daag hul op en gee bestes op die veld.

Die nie-sokkerkykers raak deel van die skare. Ek kies ‘n geel serp en skree vir my land. Lees van ons doelwagter wat deur moeilike kinderjare moes veg om bo te kom en leer name van spelers soos Mokoena en Maseko. Ek leer van onkant wees, geel kaarte en dramatiese valle op die veld. Kyk gefassineerd na afrigters wat arms swaai en op en af langs die veld loop. Ek juig as Bafana wen en voel hartseer as ons net-net verloor.

Oral is daar spanne wat wen en ander wat verloor. Soms teen die verwagting in. Buite woed ‘n oorlog. Êrens beland ‘n pienk rok dogterjie op ‘n swaai. Vir sommige beteken verloor, ‘n vlug huis toe, vir ander beteken dit die verlies van alles wat hul het. Vir die een ‘n speelpark, vir die ander, ‘n plek om te wag. Almal met ‘n storie.

Dan lees ek hoe God die son laat opkom oor slegtes en goeies. Hy stuur ook reën vir almal.

Be merciful, just as your Father is merciful. Luke 6:36

Terwyl ek alles beleef en wonder wat’s reg en wat is verkeerd, word ek herinner hoe ons hier gekom het en waarom ons hier is: (Efesiers 2)

  • Geskep in Christus Jesus.
  • Om goeie werke wat God voorberei het te doen
  • Om daarvolgens te leef

Hy laat die son opkom oor slegtes en goeies. Amazing grace…

Onthou hierdie kind, was die opskrif.

Onthou ook waar jý vandaan kom. Almal het ‘n storie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap