Nommer sewe

Hulle was 4-1 voor met 5 minute oor in die wedstryd. Wie sou kon dink dat hul kon verloor?

Op die veld het verwese manne gesit. Hoe het dit gebeur? Aan die een kant, ‘n span wat mekaar uitbundig omhels, aan die ander kant, trane wat vrylik vloei. Dan die magiese oomblik. Die twee nommer sewes van beide spanne wat mekaar styf vasdruk. Want sportmanne verstaan. Hartroerend mooi.

Beide Durban en Pietermaritzburg se mense verras my met hul vriendelikheid. Die N3 is ‘n stresvolle pad maar die plantegroei pragtig, Hilton College ‘n belewenis maar my asma is op sy ergste. Gelukkig bereik ons ons bestemming sonder enige probleme en is daar pompies wat my longe (meestal) oop kan hou. Dis ‘n voorreg om hier te kan wees.

Ons ouers se emosies speel wipplank soos ons goeie en slegte wedstryde beleef. Ons klop die moeilikste span lag-lag maar sukkel teen die laer spanne. Ons wen alles maar verloor in die semi-finale wedstryd. Die afrigters bly rustig en geduldig en ons kinders beleef ‘n positiewe toernooi. Hul eindig met ‘n bronsmedalje om die nek. Bonus. Vir ons as ouers is die toernooi ‘n fees van hokkie, ‘n week van ontvlugting en stille waarneming.

My observasies lei my op ‘n ander spoor wanneer twee wedstryde tussen vier ander provinsies plaasvind. Ons word toeskouers van die groter prentjie. Tydens die eerste wedstryd sit ons naby ‘n groot man wat hardop praat wat hy dink. Hy skel die skeidsregter uit, kritiseer links en regs en vertel presies wie wat moes gedoen het. Elke fout word uitgewys behalwe as sy eie kind die bal mis. Sy negatiwiteit oor sy eie span voel toksies en maak almal om ons negatief. Ek begin stilweg hoop dat die ander span wen.

Direk daarna begin die volgende wedstryd. Vier ondersteuners kom reg voor ons sit. Dit gaan aanvanklik maar sukkel-sukkel met hul span. Tog bly die kommentaar verbasend positief. Woorde soos, “almost”, “you’ve got it ” en sinne soos, ‘send it down the line, yes! Oh, almost, sort of”, laat ons glimlag. Dis mooi snaaks. Geen negatiewe kommentaar oor enige speler. Hier en daar ‘n vraagteken oor ‘n skeidsregter se besluit maar niks afbrekends nie. Hul aanmoediging raak aansteeklik! Ons juig hartlik saam wanneer hul span uiteindelik ‘n doel aanteken.

In my kop vat ek notas. Uiteenlopende reaksies met teenoorgestelde effekte op iets.

Besef ons watter invloed ons woorde en gedrag op ander kan hê? Onthou ons wie in ons leef as ons kinders van God is? Twee verse herinner my aan Bybelse riglyne waarna ons moet streef, juis wanneer ons tussen ander mense is. In die kerk, by die werk, in ons huise maar ook langs die sportveld.

  • Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? 1 Korintiërs 6:19
  • En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die naam van die Here Jesus….Kolossense 3:17

Ek kan nie onthou watter van daardie spanne gewen of verloor het of hoeveelste hul in die toernooi geëindig het nie. Wat ek wel onthou is die smaak wat in my mond gelos is. Die een was bitter, die ander soet. Sukses word in ys geskryf. Dit smelt vinnig. Wen of verloor raak irrelevant.

Om langs die veld te kon wees waar my kind, toevallig ook ‘n nommer 7, gespeel het, was meer werd as hoeveel keer sy die bal gekry het. Dis goue oomblikke vir eendag se onthou.

Om kompeterend te wees is goed, om kwaad en gefrustreerd te raak is menslik, om afbrekend te raak, nooit aanvaarbaar. Dit geld ook vir die politiek.

Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. Efesiers 4:29 2020

Twee onbekende nommer sewes wat mekaar omhels en troos was meer werd as ‘n medalje om die nek. Soms verstaan ons kinders meer van die groter prentjie.

Ek het gekom om hokkie te kyk. Ek het soveel meer gekry.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories